fbpx
Vryheidsfront Plus

Mangaung se makro-organogram net oëverblindery

Die voorgestelde makro-organogram wat gister aan die Mangaung-metroraad voorgelê is vir goedkeuring, is niks anders as oëverblindery nie.

Die organogram stel verskeie wysigings aan die personeelstruktuur in die onderskeie afdelings van die munisipaliteit voor.

Hoewel daar enkele sinvolle aanpassings aan die organogram is, het die ANC-beheerde metro grootliks die geleentheid gemis om daadwerklike veranderinge aan te bring om beter funksionering binne die strukture van die munisipaliteit te bewerkstellig.

Op die oog af lyk die organogram of dit ‘n stap in die regte rigting is met onder meer die vermindering van direktorate vanaf nege na sewe met geringe gepaardgaande besparings.

‘n Vraag oor die lot van amptenare van die oorblywende twee direktorate ontstaan egter. Daar sal in effek geen sinvolle besparing wees indien hierdie amptenare bloot na ander direktorate geskuif word nie.

Amptenare wat nie deur die herstruktureringsproses in diens gehou word nie, sal waarskynlik met aansienlike skeidingspakkette afgelê word.

Die VF Plus waarsku reeds jare lank dat die ANC, weens sy onvermoë om werk te skep, eerder talle poste teen buitensporige salarisse geskep het om politieke guns te wen.

Hierdie werkswyse op alle vlakke van regering het gelei tot onnodige aanstellings met ‘n buitensporige salarisrekening.

‘n Verdere rooi vlag is die feit dat die personeel van politieke kantore nie deel vorm van die voorlegging wat gister voor die raad gedien het nie.

Hierdie proses is in die verlede deur die ANC misbruik vir politieke aanstellings. Dit is juis hierdie aanstellings wat gelei het dat meer as ‘n honderd sogenaamde spookwerkers aangestel is.

Dit is nie die regering se werk om werk te skep nie, maar eerder om ‘n gunstige omgewing vir werkskepping te bewerkstellig.

Hierdie organogram is te min te laat en sal sonder die nodige politieke wil nie slaag nie. Die voorlegging daarvan sonder die aanstellings wat die ANC in politieke kantore maak, is oneerlik.

Die mense van Mangaung verdien ‘n munisipaliteit wat effektief en tot voordeel van alle inwoners bestuur word. Die ANC is nie daartoe in staat nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.