Die Wes-Rand-distriksmunisipaliteit se aankondiging dat die Junie-salarisse van senior bestuurders en raadslede vertraag word weens kontantvloeiprobleme, is ’n duidelike teken van ’n ernstige finansiële krisis.
Luidens ʼn skrywe van die waarnemende munisipale bestuurder, Zeblon Mphuphuli, sal Junie-salarisse eers teen 5 Julie uitbetaal kan word.
Wanneer ’n munisipaliteit nie eens sy eie werknemers betyds kan betaal nie, wys dit dat plaaslike regering in Gauteng op ’n gevaarlike pad van wanbestuur en verval is.
Hierdie vertraging het nie net administratiewe gevolge nie, maar skep direkte en onbillike gevolge vir die betrokke werknemers en hul huishoudings.
Kontraktuele verpligtinge wag nie vir ’n munisipaliteit se kontantvloeiprobleme om te verbeter nie. Geen werknemer behoort finansiële skade te dra omdat ’n raad sy finansies nie kan bestuur nie.
Die tyd vir verskonings is verby. Gemeenskappe is moeg vir planne en beloftes terwyl dienslewering agteruitgaan. Wanneer munisipaliteite keer op keer misluk, moet daar sigbare gevolge wees.
Finansiële wanbestuur kan nie langer geduld word nie en moet daadwerklik aangespreek word. Aanspreeklikheid moet afgedwing word sodat amptenare en bestuurders werklik verantwoording doen
Provinsiale ingrypings moet nie net op papier bestaan nie, maar moet meetbaar en volhoubaar wees om ’n werklike verskil in inwoners se daaglikse lewe te maak.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen sodat die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) sy grondwetlike verantwoordelikheid nakom om munisipaliteite te ondersteun, te monitor en waar nodig in te gryp.
Inwoners verdien ’n plaaslike regering wat sy verpligtinge nakom en nie een wat sy eie mense en gemeenskappe in die steek laat nie.
Op 4 November het inwoners die geleentheid om vir die VF Plus te stem vir ’n plaaslike regering wat finansiële dissipline herstel, aanspreeklikheid afdwing en werklike dienslewering verseker.
’n Stem vir die VF Plus is ’n stem teen wanbestuur en vir ’n Wes-Rand wat sy mense eerste stel.


