Gauteng bevind hom midde-in ‘n finansiële en ekonomiese krisis. Die VF Plus het gister met die debat oor die 2026/27-begroting van die Gautengse tesourie hieroor gewaarsku.
Die krisis, soos vergestalt deur die stygende werkloosheidsyfer in die provinsie, kan ter kontrastering vergelyk word met die notering van Elon Musk se SpaceX verlede Vrydag. Die notering het die grootste aanvanklike openbare aanbod in die geskiedenis daargestel.
Daarteenoor gly Gauteng terug in die ander rigting.
Dit is daarom nodig om te vra wat in Gauteng skeef geloop het en hoe mens die gety kan omdraai ten einde ‘n provinsie te word wat werkskeppende beleggings trek en idees ontwikkel tot patente en winsgewende produkte.
Gegewe Gauteng se natuurlike rykdom en talryke werkerskorps bestaan daar min rede waarom Gauteng nie die groeitrajek van die suksesvolle ekonomieë van die wêreld kan volg nie.
Die groeiende werkloosheidsyfer is ‘n helder waarskuwingslig dat om bloot aanhoudend dieselfde te doen nie tot beter uitkomste sal lei nie.
Daarom sal die provinsie ‘n beter strategie moet volg as wat tans die geval is.
Een van die faktore onder die provinsie se beheer is die begrotingstoekenning aan departemente.
Die een departement wat verantwoordelik is vir ekonomiese groei en volhoubare werkskepping, naamlik die departement van ekonomiese ontwikkeling, se jaarlikse begroting bly deurlopend klein en onvoldoende.
Daarom sal die eerste korrekte stap wees om dié departement se programme te hersien en die begroting daarvoor te vergroot om die positiewe impak van ‘n beter sake-omgewing te versterk.
Die provinsiale tesourie kan in hierdie verband ‘n deurslaggewende rol speel.


