Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus versoek Overstrand-munisipaliteit om behoeftehulp indringend te ondersoek

Die VF Plus het die Overstrand se munisipaliteit versoek om dringend die toepassing van die munisipale eiendomsbelastingkorting en ondersteuningskriteria vir behoeftiges, spesifiek vir inwoners met baie lae huishoudelike inkomste, te hersien.

Dit blyk dat sommige inwoners onregverdig uitgesluit word op grond van die tipe woonstruktuur waarin hulle woon.

Beleidsvertolking rakende woonwaens, informele strukture en alternatiewe woonreëlings moet hersien word sodat kwesbare pensioenarisse en behoeftiges nie onregverdig uitgesluit word nie.

Dit volg nadat mnr. Barry Riddle, ‘n inwoner van Fisherhaven, toepaslike korting geweier is omdat hy nie in ‘n konvensionele, permanente struktuur woon nie. Hy ontvang ’n Sassa-pensioen en sy huishoudelike inkomste is onder die kwalifiserende drempel. Hy woon tans in ’n woonwa wat op sy eie erf geleë is.

Die munisipaliteit se huidige vertolking skep ’n ongelykheid tussen verskillende kategorieë van kwesbare inwoners.

Inwoners wat in informele strukture, soos onder meer plakkershutte woon, mag ondersteuning ontvang, terwyl ’n pensioenaris wat ’n erf besit en ’n woonwa op daardie eiendom bewoon, uitgesluit kan word hoewel hy dieselfde, indien nie meer finansiële uitdagings rakende munisipale uitgawes ervaar nie.

Die VF Plus wil dus weet of die beoordeling van die korting gegrond is op huishoudelike inkomste en finansiële behoeftes of hoofsaaklik op die tipe struktuur wat bewoon word.

Indien die huidige beleid dit wettig toelaat dat ‘n onderskeid getref word tussen ’n persoon wat in ’n plakkershut woon en ’n persoon wat in ’n woonwa op sy eie eiendom woon, dring die VF Plus daarop aan dat dit onmiddellik ondersoek word sodat alle eienaars gelyke behandeling ontvang.

Overstrand se huidige ondersteuningskriteria vir behoeftiges verwys na kwalifiserende huishoudings op grond van inkomste en ander voorwaardes, insluitend bewoning van die eiendom as primêre woning.

Kortings op eiendomsbelasting vir pensioenarisse word eweneens gegrond op kwalifiserende kriteria, insluitend inkomste- en primêre verblyfvereistes.

Die munisipaliteit het ’n verantwoordelikheid om beleid konsekwent en billik toe te pas. Kwesbare bejaarde inwoners behoort nie benadeel te word bloot omdat hul woonomstandighede verskil van dié van ander persone wie se finansiële omstandighede wesenlik dieselfde is nie.

’n Persoon se armoedestatus en vermoë om te betaal behoort behoorlik in ag geneem te word.

Die VF Plus versoek dus die speaker om opdrag aan die munisipale bestuurder te gee om ’n volledige hersiening van mnr. Riddle se aansoek en omstandighede te doen. Die party dring verder aan op skriftelike redes vir die weiering of uitsluiting van die korting. Kwesbare pensioenarisse kan nie só benadeel word bo ander nie.

Dit is van uiterste belang dat die Overstrand-munisipaliteit sal verseker dat munisipale verligtingsmaatreëls diegene bereik wat werklik hulp benodig en dat beleide op ’n billike en redelike wyse toegepas word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.