Terwyl September as Toerismemaand gevier word en ’n geleentheid bied om die belangrike rol van toerisme in Mpumalanga te beklemtoon, ondermyn swak dienslewering en verwaarloosde infrastruktuur die provinsie se toerismepotensiaal ernstig.
Met die Nasionale Krugerwildtuin, die Panoramaroete en sy ligging as deurgang na Eswatini en Mosambiek, beskik Mpumalanga oor wêreldklas-toerisme-aanbiedinge. Asemrowende landskappe, wild, avontuur en kultuur maak die provinsie gewild onder plaaslike en internasionale besoekers.
Toerisme bring sowat R11,7 miljard se besteding na die provinsie en ondersteun 4,6% van alle werksgeleenthede. Dit is as ’n sleutelsektor vir ekonomiese groei en werkskepping geïdentifiseer. Die vraag is waarom die provinsiale regering en die Mpumalanga Toerisme- en Parkeagentskap nie meer doen om hierdie potensiaal ten volle te ontsluit nie.
Die VF Plus-LPW, mnr. Werner Weber, het die afgelope maand verskeie toerismeprobleme onder die aandag van die LUR vir toerisme, Jesta Sidell, gebring.
Dullstroom se toegangsweë is erg vervalle. Plaaslike ondernemings rapporteer dat besoekers elders heen gaan om skade aan hul voertuie en motorfietse te vermy.
By Greylingstad word ’n historiese klipbaken op Slangfonteinberg nie behoorlik onderhou nie. Die baken, wat tradisioneel wit gekalk is om van ver af sigbaar te wees, is vervalle en skaars sigbaar.
In Pelgrimsrus staan die historiese Royal Hotel, wat teen groot koste gerestoureer is, reeds langer as 18 maande leeg weens vertragings met die aanstelling van ’n nuwe operateur. Dit is ’n ernstige verlore geleentheid vir Pelgrimsrus en omliggende dorpe wat swaar op toerisme-inkomste staatmaak.
Toerisme kan slegs groei indien basiese infrastruktuur en dienslewering op standaard is.
Die VF Plus sal gedurende Toerismemaand voortgaan om druk op die provinsiale regering te plaas om hierdie probleme aan te spreek, veral met die Desember-vakansieseisoen van 2026 in die vooruitsig.


