Dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus, het die Springbokvlakte-sonneblomprojek, waar boere letterlik en figuurlik hand aan die ploeg slaan vir landelike veiligheid, geloof as ’n uitstekende voorbeeld van wat bereik kan word wanneer boere en gemeenskappe saamstaan.
Mulder, wat tans ’n landwye toer vir die plaaslike regeringsverkiesing onderneem om op grondvlak met gemeenskappe te skakel, was op Vrydag 4 September een van die gassprekers by die projek se gala-aand.
Hy het die geleentheid bygewoon saam met onder andere Limpopo se provinsiale polisiekommissaris, genl. Jan Scheepers, asook Henry Geldenhuys en Bennie van Zyl van TLU SA.
Die Springbokvlakte-sonneblomprojek is ’n innoverende, boeregedrewe inisiatief. Deelnemende boere plant sonneblomme op aangewese proefblokke, waarna die opbrengs van die oes direk in landelike veiligheid teruggeploeg word.
Fondse word aangewend vir veiligheidskameras, patrollievoertuie, hommeltuie en ander veiligheidsmaatreëls. Die projek dien terselfdertyd as ’n praktiese ontwikkelingsplatform vir jong boere.
Dr. Mulder het aan die boere gesê hy voel tuis “op die grond, tussen sy mense”. Hy het gesê dit is eie aan boere om nie te wag op iemand anders om ‘n probleem op te los nie, maar om self die verantwoordelikheid te neem en planne te maak – presies wat Suid-Afrika nodig het.
Hy het landelike veiligheid as ’n prioriteit beklemtoon en verwys na gesprekke wat hy tydens besoeke aan die Verenigde State daaroor gevoer het. Hy het sy bereidwilligheid uitgespreek om die bestaande veiligheidsinisiatiewe verder te versterk en betrokke rolspelers met mekaar in verbinding te bring.
Die VF Plus beskou die projek as ’n inspirerende voorbeeld van gemeenskappe wat met vernuf en eie inisiatief hul veiligheid en toekoms beskerm.


