Die inwoners van Nooitgedacht in Bishop Lavis gaan al vir jare gebuk onder herhaaldelike riool-oorstromings wat nou hopelik iets van die verlede is.
Huise en agterplase is gereeld met rou riool oorstroom. Dit het ’n ernstige impak op mense se gesondheid, waardigheid en lewensgehalte gehad.
Die probleme by die Nooitgedacht-pompstasie is veroorsaak weens ’n kombinasie van kabeldiefstal, vandalisme en voorwerpe wat in die rioolstelsel gegooi word. Dit het tot herhaaldelike blokkasies en skade aan die infrastruktuur gelei.
Ná meer as ’n jaar se volgehoue druk, gesprekke en korrespondensie deur die VF Plus, is daar eindelik begin met broodnodige opgradering van die pompstasie.
Die VF Plus het onlangs saam met die burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, Zahid Badroodien, en ingenieurs van die Stad Kaapstad ’n oorsigbesoek aan die terrein gebring.
Tydens die besoek is die uitdagings op grondvlak ondersoek en is daar direk met amptenare én die inwoners wat die ergste geraak word, gesprek gevoer.
Die VF Plus verwelkom die opgradering, maar sal die vordering noukeurig monitor. Inwoners van Nooitgedacht verdien ’n betroubare rioolstelsel en moet deurgaans op hoogte gehou word van die verbeterings.
Die party sal aanhou om druk uit te oefen totdat die probleme by die pompstasie volhoubaar opgelos is.


