fbpx
Vryheidsfront Plus

Ramaphosa wys met sy optrede oor Phala Phala ANC se belange word voorop gestel (Debat in parlement: Oorweging van onafhanklike verslag vir artikel 89-ondersoek na Phala Phala)

Die belange van president Cyril Ramaphosa en die ANC kom eerste. Daarna die belange van Suid-Afrika. Dít blyk duidelik uit die president se optrede oor Phala Phala.

Die gebeure op Phala Phala is op 9 Junie vanjaar reeds in die parlement bespreek. Die president het toe gesê hy het niks verkeerd gedoen en geen wet oortree nie.

My advies aan die president was om die publiek in sy vertroue te neem en al die kwelvrae oor die gebeure te beantwoord.

Gesonde verstand dikteer immers dat hy dit sekerlik kon doen indien daar niks was om weg te steek nie. Hy wou nie.

Artikel 83 van die land se Grondwet maak dit duidelik dat die president die plig het om die Grondwet te handhaaf, te verdedig en te respekteer.

Indien die nodige respek in hierdie geval daar was, sou die president bereid gewees het om verantwoording te doen teenoor die parlement se Nasionale Vergadering (NV).

Die Zondo-kommissie het reeds bevind president Ramaphosa het nie genoeg gedoen om verantwoording aangaande staatskaping te bewerkstellig nie.

Die vorige speaker van die NV, me. Thandi Modise, het selfs verskoning gevra dat die NV misluk het in sy taak om die uitvoerende gesag verantwoordbaar te hou.

Gesonde verstand maak dit in hierdie geval duidelik dat die president na vore sou kom met die waarheid indien hy niks het om weg te steek nie. Hy het immers self erken dat daar valuta op sy plaas was. Die presiese bedrag is irrelevant.

Die logiese vrae wat hieruit voortspruit sou dan wees of voldoen is aan die wetlike vereistes om die geld te verklaar, of daar BTW op die transaksie betaal is, waarom die diefstal so lank verswyg is en les bes, waarom die kontant in meubels versteek is.

Al wat Suid-Afrika vra, is antwoorde op hierdie logiese vrae wat die president self nie ontken nie.

Deur dit nie te doen nie, skop pres. Ramaphosa die publiek in die tande deur hard en duidelik met sy optrede te sê die ANC is veel belangriker as die mense van Suid-Afrika.

Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.