fbpx
Vryheidsfront Plus

Energievoorsiening: Inploffing van die staat skep geleenthede

Die bedanking van die hoof uitvoerende beampte van Eskom, mnr. André de Ruyter, stuur tans skokgolwe deur die land.

Terwyl sy prestasie, beurtkrag onder sy bestuur en die redes vir sy bedanking nog lank bespreek sal word, is die vraag nou wat volgende gaan gebeur.

Eskom is terminaal siek sedert beleggings in nuwe opwekkingsvermoë vroeg in die millennium beëindig is en toe dit met die rampspoedige konstruksie van die Medupi- en Kusile-kragsentrales opgevolg is.

Om De Ruyter vir die onlangse ineenstorting van kragvoorsiening te verwyt, is om 'n dokter te verwyt onder wie se hand 'n kankerpasiënt sterf. Dit is egter tans nie die belangrikste nie.

Die belangrikste is dat Suid-Afrika as staat 'n erfenis uit die koloniale era is wat noukeurig met die infrastruktuur van kragdrade, pyplyne, spoorlyne en paaie aanmekaar geweef is.

Dit is die industriële ekonomie op 'n grondslag van verwerking sowel as die uitvoer van landbou- en mynbouprodukte gebou, wat die eenheid langer as 'n eeu bewaar het.

Die toestand van paaie is welbekend, terwyl Transnet se spoor- en pyplynnetwerk nie veel beter lyk nie. Dit is verwikkelinge met belangrike politieke gevolge.

Die politiek haat 'n vakuum net soveel as die natuur. Die staat se inploffing, waarin De Ruyter se bedanking 'n belangrike mylpaal is, sal noodwendig nuwe gesagstrukture tot gevolg hê. Mafia-agtige bedrywighede in die konstruksie en mynbou word dikwels gerapporteer. Dit is egter moeiliker om so iets in energievoorsiening te laat geld.

Ondernemings, huishoudings en gemeenskappe wat hul kragte saamsnoer, sal toenemend hul eie energie moet voorsien.

Hier praat 'n mens van hernubare bronne, maar kleinskaalse modulêre kernkrageenhede kan ook tot die energiemengsel bydra.

Hierdie tegnologieë leen hulle tot kleiner projekte as die reusagtige skaal van Eskom.

Tot dusver is algemeen aanvaar dat Eskom, met al sy gebreke, steeds die oorheersende rol in Suid- Afrika se kragvoorsiening sal speel. Dit beantwoord nie die vraag van wat sal gebeur as Eskom in duie stort nie.

Die antwoord lê daarin dat Suid-Afrika onherkenbaar sal verander. Gemeenskappe en omgewings wat hul eie elektrisiteit kan opwek, sal 'n moderne ekonomie in stand hou.

Die res van die land sal grootliks tot 'n bestaansekonomie terugval. Die staat sal minder belasting kan vorder, wat maatskaplike toelae in gevaar kan stel.

Al hierdie faktore sal onhoudbare druk op die politieke eenheid van die land plaas.

Landsgrense volg die werklikheid op die grond, nie andersom nie.

Die grense in Suider-Afrika kan grootliks oor 'n dekade of twee 'n weerspieëling wees van inwoners se vernuf en vermoë tot samewerking om elektrisiteit op te wek.

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Mark Surgeon

Tshwane-metro minag Strukturewet

Die Tshwane-metroraad het gister tydens ʼn raadsvergadering die Munisipale Strukturewet geminag deur ʼn verslag wat handel oor ʼn ANC-raadslid wat ses agtereenvolgende raadsvergaderings nie bygewoon

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.