Die VF Plus het die Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Mbali Hlope, skriftelik versoek om te verduidelik waarom dié departement nog geen subsidie oorbetaal het aan twee bekende kinderhuise in Pretoria sedert Oktober vanjaar nie.
Weens die laat of geen betaling van die departement, kon die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuise in Pretoria nie hul finansiële verantwoordelikhede nakom nie en is nou grootliks afhanklik van skenkings uit die gemeenskap.
Die kinderhuise kwalifiseer vir twee sesmaandelikse subsidiebetalings; in April en Oktober.
Die laaste betalings is in Mei vanjaar ontvang. Volgens die kinderhuise is die betalings nooit betyds nie.
Die twee kinderhuise huisves sowat 334 kinders tussen die ouderdom van drie tot agtien jaar.
Regeringsubsidies maak slegs voorsiening vir die helfte van die kinderhuise se uitgawes en vir die res is hulle aangewese op private skenkings.
Die VF Plus sal aanhou druk plaas op die departement en LUR om toe te sien dat die kinderhuise se subsidies so gou moontlik uitbetaal word.
Hierdie is weereens ‘n bewys dat die ANC-beheerde Gautengse regering nie die belange van kwesbare kinders op die hart dra nie.
Gauteng verdien beter as die ANC.