Die VF Plus eis dat die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, moet ingryp by die voortslepende waterkrisis in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom).
Tans ervaar inwoners van Bedelia, Jan Cillierspark, Doorn, Sandania, Flamingopark en Dagbreek in Welkom, asook Whites in Hennenman watertekorte wat reeds vir weke duur.
Die VF Plus vind dit vreemd dat net sekere gebiede van Matjhabeng gedurig watertekorte ervaar terwyl ander gebiede selde daardeur geraak word.
Dit is algemeen bekend dat jarelange swak instandhouding en herstel onder die ANC die oorsaak is vir die waterkrisis wat inwoners ervaar.
Die burgemeester, David Khalipha, se beloftes om die probleme aan te spreek, was duidelik leeg en daar is geen bewyse van enige verbetering nie.
Terwyl die munisipaliteit met daaglikse beurtwater poog om die vlakke van water te normaliseer, het dit die teenoorgestelde uitwerking.
Waterdruk en -vlakke kan eenvoudig nie normaliseer nie omdat daaglikse onderbrekings keer dat genoeg drukking in stelsels opbou en krane eenvoudig nie water het nie.
Intussen word die talle waterlekkasies in veral Welkom nie herstel nie. Dit dra by dat skoon water nie net verlore gaan nie, maar ook dat die stelsel nie vol water raak nie.
Op amptelike versoek van die VF Plus moet die premier nou sy grondwetlike plig nakom en verseker dat alle inwoners in Matjhabeng se reg van toegang tot skoon water beskerm word.
Daar sal nie enige herstel en bou in Matjhabeng plaasvind solank die ANC aan bewind is nie.
Ware verandering sal net plaasvind as die Vrystaat van die ANC ontslae raak en vervang met ʼn koalisieregering waarvan die VF Plus deel sal vorm.
Slegs met die aanstel van kundige amptenare sal kritieke infrastruktuur herstel en herbou kan word.


