(Debat in Gauteng-wetgewer)
Die VF Plus het die Gautengse premier, David Makhura, voor stok gekry oor die ANC se bestuurstyl en beleid wat die provinsie op 'n pad van vernietiging lei.
Die Gauteng-regering se toekomsplan, bekend as "Growing Gauteng Together 2030" (GGT2030) wat 'n padkaart na 2030 daarstel, het nie tot 'n beter lewe vir die inwoners van Gauteng gelei nie. Dit was al die geval voor die Covid-19-pandemie die provinsie getref het.
Die GGT2030-plan se inherente teenstrydigheid is te vinde in die feit dat die ANC die plan as 'n wetenskaplike padkaart vir die provinsie beskou, maar dat die ANC se eie beleid wat daarin toegepas word juis onwetenskaplik is.
Daar is talle bewyse dat die ANC se beleid van sentralisering, regeringsinmenging, werkskepping deur die staat en vyandigheid teenoor die vrye mark en die besigheidsektor, net tot 'n tragiese einde kan lei, met voorbeelde soos Zimbabwe, Venezuela en Noord-Korea.
Die premier hou daarvan om te verwys na die Indlulamithi-scenario’s en stel dit telkens dat die ANC Gauteng weg wil neem van die sogenaamde "Gwara-Gwara"-scenario waar ons in dieselfde mandjie as Zimbabwe beland.
Die waarheid is egter dat die Indlulamithi Groep in hulle analise vir die jaar 2019/2020 en deur hulle Indlulamithi Barometer aangedui het dat Gauteng wat betref institusionele vermoë en leierskap alreeds meer as 33% in die Gwara-Gwara-omgewing funksioneer.
Die VF Plus beskou die gebrek aan goeie beleid, institusionele vermoë en leierskap onder die ANC-regering as die hoofredes waarom Gauteng nie vooruitgaan nie.
Dit sal nie verander tensy die ANC uit die kussings gelig word nie.