Die speaker van Mpumalanga se wetgewer, Makhosazane Masilela, het die onderneming aan die VF Plus gegee om die ANC se uitvoerende gesag tot verantwoording te roep rakende ‘n omstrede grondtransaksie in Mbombela.
Masilela het die premier, Refilwe Mtsweni-Tsipane, beveel om binne tien werksdae 'n volledige verslag te lewer wat verduidelik hoe die plaas Farm Biggar van 166 hektaar teen R34 miljoen aangekoop is, R19 miljoen meer as die oorspronklike koopprys.
Nadat die VF Plus die transaksie ontbloot het waarin die stad Mbombela as die nuwe eienaar van die eiendom genoem word, het Mtseni-Tsipane tydens 'n vraag-en-antwoord-sessie geantwoord dat dit in werklikheid die departement van menslike nedersettings is wat die grond vir die stad gekoop het.
Tydens dieselfde antwoordsessie kon die premier nie verduidelik hoe dit moontlik was dat belastinggeld, met al die bestaande maatreëls in plek om korrupsie te voorkom, steeds op hierdie wyse verkwis kon word nie.
Die stuk grond is van maatskappye wat aan ANC-kaders gekoppel is, gekoop. Sommige direkteure is voor hierdie transaksie reeds in hegtenis geneem omdat hulle na bewering voordeel getrek het uit soortgelyke grondverkope en verhoogde grondpryse.
Een van hulle is die voormalige minister van staatsveiligheid onder die Jacob Zuma-administrasie, Bongani Bongo.
Die VF Plus dring daarop aan om die volledige verslag van die premier se kantoor te ontvang en sal op grond van die bevindings in die verslag die saak verder voer en toesien dat die skuldiges verantwoordelik gehou word.
Die VF Plus sal voortgaan om korrupsie bloot te lê en te bestry om sodoende seker te maak dat daar aanspreeklikheid in die provinsie is.