(Debat oor burgemeester se stadsrede)
Die VF Plus het die burgemeester van die Ekurhuleni-metro, Mzwandile Masina, tydens die debat op sy stadsrede daarvan beskuldig dat hy die inwoners van Ekurhuleni gefaal het.
Die VF Plus het verskeie voorbeelde in dié verband uitgelig en hom voor stok gekry omdat hy homself op die skouer klop terwyl dienslewering in die algemeen verswak.
Een van die knellende probleme is die gedurige kragonderbrekings wat die metro ervaar. Hier word nie van beurtkrag gepraat nie, maar van swak beplanning, bestuur en onderhoud van die stadsraad self van die metro se kraginfrastruktuur.
Kabeldiefstal en onwettige aansluitings speel ook ‘n groot rol en daar word nie genoeg gedoen om dit te verhinder nie. Daar behoort brandpunte in dié verband geïdentifiseer te word.
‘n Verdere kwessie wat die waardigheid van die inwoners van die metro aantas, is die uiters gebrekkige vullisverwyderingsdienste deur die metroraad. Die verantwoordelike departement het die afgelope tyd gesorg dat slegs een uit die vyf beskikbare stortingsterreine in werking is.
Dit het veroorsaak dat die metro verval het in ‘n vuil, stinkende en ongesonde plek om in te woon.
Daar is natuurlik talle ander probleme wat nie behandel word nie. Waterlekkasies word nie herstel nie, slaggate stel padverbruikers se lewe in gevaar, die parke-departement funksioneer nie, kritieke poste word nie gevul nie, die Farrarmere Gardens-titelakte-debakel wat bejaardes beroof van eiendomsreg is nie opgelos nie, en beloofde behuising realiseer nie.
Die VF Plus sal sy stryd voortsit vir beter dienslewering vir alle inwoners van die metro.
Navrae: 072 217 1951