Nadat die raad van die Phokwane-plaaslike munisipaliteit (Hartswater, Jan Kempdorp, Pampierstat) in 2020 ontbind en ‘n nuwe raad in November 2020 verkies is, het min verander.
Die huidige ANC-beheerde raad het sedert inhuldiging verskeie raadsbesluite in stryd met wetgewing goedgekeur. Sulke besluite is uiteraard onwettig maar geld tot dit gewysig word of deur ‘n hof onwettig en ongeldig verklaar word.
Sedert Desember 2020 het die raad reeds twee begrotings goedgekeur wat nie aan die wetlike vereistes voldoen nie.
VF Plus het raadslede tydens beide vergaderings aangaande die wetlike vereistes ingelig, maar dit het op dowe ore geval. Die administrateur, mnr. Bamba Ndwadwe, het die raad telkens van teenoorgestelde advies bedien, waarop ANC-raadslede hul meerderheid gebruik het om dit goed te keur.
Die VF Plus het na die raadsvergadering op 23 Maart 2021, ‘n kennisgewing van mosie ingedien wat voorstel dat die twee begrotings se goedkeuring gewysig word en dat die voorgeskrewe proses om ‘n begroting goed te keur, onmiddellik in werking gestel moet word. Op hierdie vergadering is ‘n waarnemende munisipale bestuurder aangestel terwyl die wetlike prosesse weereens verontagsaam is.
Die VF Plus versoek sedert Desember dat die onderskeie oorsigkomitees en die munisipale rekeninge oorsigkomitee (MPAC) aangestel moet word. Dit was op die agenda vir 23 Maart, maar die speaker het dit eensydig van die agenda verwyder.
Hierdie komitees is noodsaaklik, aangesien die amptenary in elke afdeling aan die onderskeie komitees verslag doen.
Hierdie verslae word in die komitees oorweeg en met aanbevelings na die raadsvergadering verwys. MPAC, byvoorbeeld doen oorsig oor alle inkomstes en uitgawes en tree op as waghond oor die regerende party. Dit wil dus voorkom asof die ANC doelbewus die aanstelling van hierdie komitees vertraag om oorsig vry te spring.
Hierdie situasie kan nie verder geduld word nie, aangesien dit dienslewering en inwoners se grondwetlike regte nadelig raak.
Die logiese afleiding is dat ANC-raadslede hulself nie onderhewig aan die oppergesag van die reg ag nie. Die grootste oorsaak van munisipale ineenstorting is juis kaderontplooiing onder regstellende aksie en 'n kultuur van wetsverontagsaming onder ANC-raadslede.
Die tyd het aangebreek dat munisipale raadslede en amptenary verantwoordbaar gehou word.
Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om munisipale rade so ver te kry om aan wetgewing te voldoen deur hulle verantwoordbaar te hou vir besluite wat nie aan wetlike voorskrifte voldoen nie.