Vir ‘n gemeenskap om te oorleef moet daar reëls wees. Mense het grense nodig en mense reageer verskillend op hierdie riglyne en beperkings. Gevangenisse is daar vir diegene wat nie binne hierdie riglyne hou nie en om hulle op die regte pad te help.
Suid-Afrika se samelewing raak toenemend misdadig en gewelddadig en die neiging is ongelukkig om hierdie misdaadkultuur in plekke van aanhouding voort te sit. Daarom is dit belangrik om omstandighede vir misdadigers skep om hulle produktief besig te hou en om ander vaardighede aan te leer.
Die VF Plus stem daarom saam dat dit ‘n goeie inisiatief is om aangehoudenes landbouvaardighede aan te leer om hul tyd en energie daarop toe te spits. Dit kan bydra tot die ware rehabilitasie van mense in aanhouding en mettertyd kan geskoolde arbeid selfs ‘n bydrae tot die ekonomie lewer.
Wat die departement se administrasie aanbetref, verwelkom die VF Plus die vinnige kansellering van die African Global Operations (AGO)- en Bosasa-kontrakte. Dit is nogtans kommerwekkend dat dit in die eerste plek toegelaat is.
Die VF Plus is ook bekommerd oor die onreëlmatige besteding van R1,987 miljard in 2017/18. Oorsig oor die departement se uitgawes sal moet verbeter en daar sal ag geslaan moet word op die regstellende aanbevelings van die Ouditeur-Generaal (OG).
Die aantal ontsnappings, geweld en onnatuurlike sterftes by gevangenisse bly onaanvaarbaar hoog en sal aandag moet geniet.
Intussen bly misdaad die produk van sosiale probleme in ‘n gemeenskap. Ekonomiese groei, werkskepping, effektiewe onderwys, wetstoepassing, 'n behoorlike kriminele regstelsel en veral 'n morele wedergeboorte in die land is al wat werklik sal bydra tot minder misdaad en minder gevangenes.
Gevangenisse is oorbevolk met 37% en volgens die VF Plus is die departement se begroting van R25,407 miljard onvoldoende gegewe die misdaadsituasie in Suid-Afrika.
Kontaknommer: 082 466 3786


