fbpx
Vryheidsfront Plus

Parlementêre begrotingsdebat: Verdediging en militêre veterane – Samewerking tussen polisie en weermag in binnelandse optredes wek kommer

Die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in die Wes-Kaap om misdaad te bekamp is ‘n erkenning van die regering dat hy die stryd teen misdaad verloor het, en die vraag is of die weermag en die polisie se opleiding voldoende is om in sulke situasies saam te werk.

Artikel 200 van die Grondwet stel dit duidelik dat die doel van die weermag is om seker te maak die land se territoriale integriteit word beskerm.

Almal weet daar is tans geen internasionale of buitelandse bedreiging teen Suid-Afrika nie. Daar is wel ‘n interne bedreiging in die weermag. Sedert 2004 in elke begrotingsdebat in die nasionale vergadering het die VF Plus die ontoereikende begroting vir die weermag as ‘n probleem uitgewys.

Die begroting is steeds te min, maar in die media word berig van ‘n senior weermagoffisier wat honderde miljoene rande aan korrupte tenders bestee waar daar boonop ‘n buite-egtelike verhouding ter sprake was en waar belastinggeld gebruik is om homself te verryk. Dit is waarskynlik die grootste bedrag wat ooit met belastingbetalers se geld aan lobola betaal is.

Die binnelandse bedreiging is tans korrupsie. Hoe kan daar van belastingbetalers verwag word om meer geld te gee as honderde miljoene rande van hul geld weens korrupsie verlore gaan?

Wat betref die ontplooiing van die weermag saam met die polisie in die Wes-Kaap maak Artikel 201 van die Grondwet dit duidelik dat die president van die land dit kan magtig, maar dit lui ook dat die president die parlement in kennis moet stel.

Hy sal hopelik vanmiddag tydens die president se begrotingsdebat sê hoeveel soldate daar ontplooi gaan word, waar hulle ontplooi gaan word, asook die rede en die hoe lank hulle ontplooi gaan word.

Die VF Plus sê die weermag kan in sekere gevalle binnelands aangewend word, maar dit is nie wenslik nie. Die blote feit dat dit nou gebeur, is ‘n erkenning van die ANC-regering dat misdaad, in die besonder in die Wes-Kaap, buite beheer is en die polisie kan dit nie alleen beheer nie.

Die VF Plus is bekommerd oor soldate se binnelandse ontplooiing en die vraag moet gevra word of die soldate voldoende opgelei is om te weet hoe om misdaadsituasies te hanteer. Nog ‘n vraag is of die polisie se opleiding sy lede in staat stel om te weet hoe om saam met die weermag te werk. Dit is te betwyfel.

Daar is reeds ‘n botsing van ego’s in die polisie self. In die bende-eenheid is daar klaarblyklike afgunstigheid in die bevelstruktuur wat selfs lei tot die mislukking van operasies teen bendes waarin polisielede doodgeskiet word.

Dit is bekend dat sodra die polisie en die weermag moet saamwerk, hierdie botsende ego’s ‘n probleem raak en dat daar meningsverskille ontstaan oor wie bevel en beheer het oor wie. Die VF Plus is bekommerd oor daardie interne verskille en oor die feit dat dit ‘n suksesvolle stryd teen die bendeprobleem van binne in die wiele kan ry.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.