President Cyril Ramaphosa sê hy is ‘n president wat nie bang is om op te tree nie en dat sy optrede dopgehou kan word.
Hy kan begin deur te wys wat hy bereid is om te doen met die twee Suid-Afrikaanse ambassadeurs wat die land in oneer gebring het. Een is die ambassadeur in Nederland, Bruce Koloane en die ander die ambassadeur in Denemarke, Zinzi Mandela-Hlongwane.
Koloane is betrek by korrupsie terwyl Mandela-Hlongwane op sosiale media rassistiese uitlatings gemaak het wat grens aan haatspraak.
Die VF Plus wil ook van die president hoor waarom hy bang is om plaasmoord openlik te veroordeel. Die landbougemeenskap van Suid-Afrika verstaan dit nie en wil dit van hom hoor.
Die premiers van Noordwes en Gauteng, Job Mokgoro en David Makhura, asook die Speaker van die nasionale vergadering en vorige premier van Noordwes, Thandi Modise, het dit in die openbaar veroordeel. Die VF Plus doen opnuut ‘n beroep op die president om plaasmoord te veroordeel.
Wat misdaad aanbetref het die president reeds in sy staatsrede gesê hy wil toesien dat geweldsmisdaad gehalveer word. Dit is prysenswaardig. Maar dit gaan nie vermag word sonder optrede en die gebruik van tegnologie nie.
Die parlement se portefeuljekomitee vir polisie het reeds in 2012 wetgewing goedgekeur wat behels dat daar ‘n skakel geskep moet word tussen vingerafdrukke wat die polisie neem en die vingerafdruk-databasis van binnelandse sake wat die mees volledige databasis in die land is.
Dit sal veel doen om misdaad te bestry, maar tot op hede is dit nie gedoen nie. Miljoene rande word bestee aan rekenaarstelsels en ander hulpmiddels, maar totdat hierdie skakel geskep word, sal geweldsmisdaad nie maklik gehalveer kan word nie.
Die adjunk-president, David Mabuza, het vandag verwys na die grondkwessie. Diegene wat steeds glo die Grondwet sal nie gewysig word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak nie, moet kennis neem van sy uitsprake in die begrotingsdebat van die president. Hy het gesê die regering sal voortgaan om Artikel 25 van die Grondwet te wysig. Dit gaan gebeur.
Die groot gevaar is dat mense dink Artikel 25 kan met ‘n meerderheid van twee derdes gewysig word en as die Onteieningswet ter sprake kom, sal daar net sekere voorwaardes geld. ‘n Gewone wet in die parlement kan met ‘n meerderheid van slegs 50% plus een gewysig word.
Sodra die Grondwet eers gewysig is, kan die Onteieningswet met die gewone ANC-meerderheid gewysig word. Dit maak die pad oop vir toekomstige nasionalisering.
Oor gewone vooruitgang in die land versoek die VF Plus die president om distriksrade te ontbind. Dit dien geen doel nie. Munisipaliteite moet ook verbruikers wat nie betaal nie, se dienste sonder meer beëindig om te wys die kultuur van nie-betaling sal nie langer geduld word nie.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216