Sport is die een ‘taal’ in Suid-Afrika wat almal verstaan, en die belangrikheid daarvan wat nasiebou aanbetref, kan nie oorbeklemtoon word nie.
Dit is daarom belangrik dat almal in Suid-Afrika dieselfde voel oor die belangrikheid van die bevordering van ontspanningsaktiwiteite onder alle gemeenskappe om 'n gesonde, aktiewe lewenstyl te bevorder.
Suid-Afrika het ‘n bewese rekord van uitstekende sportprestasies en atlete. Die departement van sport se programme en besteding van sy begroting moet bedra tot ‘n volhoubare prestasierekord deur die bevordering van sport vanaf skole- tot op professionele vlak.
Daar is egter verskeie struikelblokke wat deur die ANC-regering self geskep is wat in die pad van ‘n voortgesette prestasierekord en behoorlike nasiebou en sosiale kohesie staan.
Die druk van die regering om elke sportspan ‘n weerspieëling van die land se demografie te maak, word al hoe groter. Dit is nie haalbaar nie aangesien sport ‘n mededingende kompetisie is. Mense kan nie gedwing word om van ‘n sekere sportsoort te hou, daaraan deel te neem of daarin te presteer nie. Soos elders in die wêreld moet meriete die enigste maatstaf wees.
Indien die ANC-regering ernstig is oor die ontwikkeling van sport, moet daar eerder gefokus word op ontwikkeling vanaf junior skoolvlak en die skep van voldoende sportgeriewe. Kosmetiese en gedwonge transformasie en ‘n gebrek aan geriewe is ‘n resep vir mislukking.
Sportgeriewe in die Vrystaat is ‘n sprekende voorbeeld van verval. Van Edenburg tot in Sasolburg is nie ‘n enkele bruikbare openbare swembad nie. Net so al die ander gemeenskapsportgeriewe waar atlete voorheen meegeding en ontwikkel het.
Die toewysing van R620 miljoen van die departement aan die provinsies om sportontwikkeling te bevorder moet fyn gemonitor word sodat atlete eindelik die voordeel daarvan kry en dit nie langs die pad deur korrupsie verlore raak nie.
Die regering moet ophou inmeng in sport. Skep ‘n omgewing waar sportsoorte ontwikkel word en atlete kan deelneem en gelyke geleenthede tot deelname het. Die ANC-regering se volgehoue inmenging in die kies van sportspanne bedreig ons eens trotse sportnasie.
Kontaknommer: 072 997 8315