fbpx
Vryheidsfront Plus

R30 miljard vir Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) kan beter aangewend word

Die bedrag van R30 miljard wat geoormerk is om die nuttelose Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te loods, moet eerder meer effektief gebruik word.

Die VF Plus is van mening dat hierdie geld eerder gebruik kan word om sekuriteit te verbeter, aandag te gee aan die herstel en aankoop van toerusting by hospitale en klinieke by die land se staatshospitale en om infrastruktuur wat uitmekaar val, op te knap en te verbeter. Dit kan ook aangewend word om die geweldige medisyne-tekort by hierdie instellings aan te vul.

Die VF Plus veroordeel gister se gebeure by ‘n hospitaal in Empangeni in KwaZulu-Natal waar ‘n pasiënt dood is nadat hy deur ‘n ander pasiënt aangeval is, ten sterkte.

Dit is ‘n duidelike bewys dat die VF Plus reg was in die afgelope Vrydag se debat oor gesondheid in die parlement toe gewaarsku is dat die land se gesondheidsorg in ‘n totale chaos is en dat sekuriteit by staatshospitale so swak is dat pasiënte, studente, dokters en verpleegsters se lewens in gevaar gestel word weens sekuriteit wat by hierdie instellings ontbreek of onvoldoende is.

Die VF Plus se woorde was skaars koud toe die tragiese voorval by die Ngwelezane-hospitaal plaasgevind het. Die pasiënt is in sy slaap aangeval.

Die nasionale regering sal eerder moet prioritiseer in stede daarvan om bestuurders vir die NGV op studietoere na die buiteland te stuur en om mense in Kuba te laat oplei om as verpleërs en dokters in staatshospitale te kom werk.

Die VF Plus is ook bekommerd daaroor dat die regering ‘n stelsel in plek wil stel wat dalk kan werk in ander lande, maar nie noodwendig in Suid-Afrika nie. Die land se gesondheidstelsel kan ‘n verdere knou toegedien word indien die NGV ingestel gaan word.

Medici sal die land uitstroom en dit kan Suid-Afrika nie bekostig nie. Medici wat tans daagliks lang ure werk om pasiënte te behandel, gaan dit nie noodwendig onder die NGV-stelsel doen nie.

Dit is kommerwekkend dat die regering nie na waarskuwings wil luister nie. Dit gaan veroorsaak dat die departement van gesondheid nog dieper in die moeras van wanorde en geen dienslewering gaan wegsink.

Dit is tyd dat die regering wakker skrik en besef dat ‘n nuttelose plan eerder laat vaar moet word as om dit hardkoppig daarmee voort te gaan en dit te implementeer. Menselewens is meer werd as ‘n nuttelose plan.

Kontakbesonderhede: 060 556 4347

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.