(Parlementsdebat oor Vryheidsdag: Verenig in ons strewe om sosiale en ekonomiese geregtigheid te bevorder en om Suid-Afrika se demokratiese orde en soewereiniteit te verdedig)
Die tema van die parlementsdebat oor Vryheidsdag dat Suid-Afrikaners verenig staan in hul strewe na sosiale en ekonomiese geregtigheid en om die land se demokratiese orde en soewereiniteit te verdedig, is ‘n illusie.
Die ANC het dié droom vernietig met sy verdelende optrede en sy onwilligheid om te aanvaar dat hy nie meer die meerderheidsteun in die land het nie, maar saam met ander partye regeer.
Dít blyk duidelik uit die feit dat die Vryheidsdagdebat in vorige jare meestal gekenmerk is deur ‘n konstruktiewe en positiewe gesindheid waar gepoog is om ‘n middelweg te vind in die groter belang van Suid-Afrika.
In skrille kontras hiermee was vandag se debat grootliks afbrekend. Dit wys duidelik dat Suid-Afrikaners van mekaar wegdryf. Die tema van die debat klink boonop na ‘n Sowjet- of Oos-Duitse slagspreuk wat die werklikheid hiervan moet verdoesel.
Suid-Afrikaners is nie verenig nie. Alles behalwe. Die ANC val selfs partye in die regering van nasionale eenheid (RNE) openlik aan en Suid-Afrika se ekonomie knars tot ‘n stilstand.
Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die ANC se mislukte ekonomiese beleid en korrupsie.
Luidens ‘n verslag van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het 44 van Afrika se 54 lande ‘n sterker groeikoers as Suid-Afrika.
Uit die 20 voorste lande wat ekonomiese groei aanbetref, is elf van Afrika. Suid-Afrika is bykans onder aan dié lys. In 1994 was Suid-Afrika die ekonomiese reus van Afrika.
Dit behoort ook nie te verbasend te wees indien ‘n mens luister na parlementslede van die ANC wat nog ‘n nasionale demokratiese revolusie najaag en die ANC se mislukte beleid op veral wittes in die land wil afdwing nie.
Die ANC tree steeds op asof hy alleen regeer. Hierdie benadering voorspel gevaar vir die RNE en Suid-Afrika. Ander het nou ook ‘n sê en dit is tyd dat die ANC dit besef.