Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Onwettige vullisstorting verander Mogale City in vullishoop

Die onwettige storting van tuinvullis in die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) is besig om skrikwekkend toe te neem.

Oop velde, slote en padrande word al hoe meer as informele stortingsterreine gebruik, wat ’n ernstige bedreiging vir openbare gesondheid en omgewingsagteruitgang veroorsaak.

Mogale City se verordening beperk vullisverwydering tot huishoudelike afval, terwyl die Luipaardsvlei-stortingsterrein se beperkte ure en swak dienslewering inwoners dwing om van private verwyderaars gebruik te maak.

Die meeste van hierdie ondernemings is nie by die munisipaliteit geregistreer nie en voldoen nie aan die nodige regulasies nie.

Groot hoeveelhede tuinvullis en boomstompe beland uiteindelik langs paaie en in openbare ruimtes.

Die VF Plus het reeds in April praktiese voorstelle oorhandig aan die munisipale bestuurder, Thabo Ndlovu, om die probleem aan te spreek.

Dit sluit in:

• Skep verskeie aflaaiplekke in Mogale City waar tuinafval gestort kan word.
• So ʼn area kan ook as ʼn komposgerief vir inwoners bemark word.
• Deur so ʼn fasiliteit te skep, kan inwoners oor naweke, wanneer die Luipaardsvlei-stortingsterrein gesluit is, van die diens gebruik maak.

Die party doen ook ’n beroep op inwoners om nie tuinvullis te stort nie en om seker te maak dat enige diensverskaffer wat hulle gebruik, behoorlik geregistreer is.

Deur samewerking tussen die munisipaliteit en inwoners, kan verdere omgewingskade beperk word en die netheid en waardigheid van woonbuurte herstel word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.