Dit is onaanvaarbaar dat nie die Victor Khanye-plaaslike munisipaliteit óf Rand Water aanvaarbare antwoorde kan verskaf oor die watertekorte waaronder Delmas tans gebuk gaan nie.
Die vermoede bestaan dat Rand Water die watertoevoer na die munisipaliteit met tot 80% gesny het weens wanbetaling. Rand Water het reeds in September 2024 gedreig om die watertoevoer na Delmas met 20% te sny.
Die munisipaliteit het op 30 Junie R486 miljoen aan die waterverskaffer geskuld. Daar is toe ooreengekom dat die munisipaliteit R5 miljoen per maand oor 60 maande aan Rand Water sal betaal.
Tans word daar net elke tweede of derde dag water in die reservoirs gepomp en indien dit opgebruik is, is die krane droog.
Hierdie krisis wat inwoners, ondernemings, skole en hospitale ontwrig, word vererger weens die munisipaliteit se nalatigheid en gebrek aan deursigtige kommunikasie.
Munisipale kennisgewings bly vaag en ontoereikend, wat die gemeenskap in die duister laat.
Die VF Plus het die aangeleentheid nou geëskaleer na Mpumalanga se departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) om antwoorde van die munisipaliteit te verkry.
Die party sal nie toelaat dat die munisipaliteit se laksheid en swak bestuur inwoners verder benadeel nie.
Betroubare watervoorsiening is ʼn reg en nie ʼn voorreg nie.


