Die private sektor is bereid om te help om Burgersfort in die Fetakgomo Tubatse-plaaslike munisipaliteit (Steelpoort, Burgersfort, Ohrigstad) se rioolprobleme op los, maar moet nou eers toestemming kry by die Sekhukhune-distriksmunisipaliteit.
Die VF Plus het aan die munisipale bestuurder van die distriksmunisipaliteit, mnr. Meshach Mahlagaume Isaac Kgwale, geskryf met die versoek dat die privaat sektor en omliggende eiendomseienaars van Tubatse Mews en Burgersfort Lodge help om die volgehoue rioolprobleme in dié gebied op te los.
Die party het ook bevestiging ontvang dat Lepelle Northern Water gereed is om bystand te verleen sodra die nodige magtiging verkry is.
Vir meer as vier jaar is die rioolstelsel in hierdie gebied nie aan die hoofrioollyn gekoppel nie. Dit het daartoe gelei dat rou riool in die omgewing uitvloei.
Dié situasie skep ’n onaanvaarbare gesondheidsrisiko vir inwoners en besoekers en ondermyn die ontwikkeling en toerismepotensiaal van Burgersfort.
Wat hierdie saak besonders maak, is die feit dat verskeie rolspelers in die privaat sektor bereid is om betrokke te raak en te help met oplossings.
Die VF Plus het nie net die probleem geïdentifiseer nie, maar bring oplossings na die tafel.
Wat nou nodig is, is die politieke wil en administratiewe toestemming om voort te gaan met die herstelwerk.
Die VF Plus se betrokkenheid is gemotiveer deur ’n beginselvaste strewe na gesonde, funksionele gemeenskappe waar basiese dienste nie ’n luukse is nie, maar ’n reg.
Die party sal die proses noukeurig monitor en druk uitoefen vir ’n spoedige en doeltreffende oplossing.


