Die VF Plus was die enigste party wat teen ʼn besluit van die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapsehoop, Skukuza, Witrivier) gestem het om ʼn amnestie van 90 dae toe te staan aan inwoners met onwettige water- en kragverbindings asook meters waaraan gepeuter is.
Die voorstel wat tydens die munisipaliteit se jongste raadsvergadering goedgekeur is, laat inwoners toe om opgehoopte skuld af te skryf, meters wettig te laat installeer en voortaan maandeliks te betaal.
Die VF Plus waarsku dat hierdie amnestie onwettige gedrag beloon, toekomstige diefstal kan aanmoedig en die druk op wetsgehoorsame verbruikers sal verhoog.
Sedert Maart 2022 het die VF Plus gepleit vir streng meteroudits. Die munisipaliteit het reeds meer as 5 000 rekeninge geoudit en boetes ingestel, insluitend ’n VF Plus-mosie in 2023 om boetes te verhoog. Die amnestie ondermyn hierdie vordering.
Die party bevraagteken ook die wettigheid van die besluit. Mbombela se Kredietbeheer- en Skuldinsamelingsbywet maak geen voorsiening vir sodanige amnestie nie. Dit vereis eerder boetes en regstappe teen oortreders.
Die VF Plus het aan Mpumalanga se LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), mnr. Speedy Mashilo, geskryf en hom versoek om ondersoek in te stel na ʼn moontlike oortreding van toepaslike regulasies en om ʼn verslag aan te vra oor wie van die amnestie gebruik maak en wat die impak daarvan op die munisipaliteit se finansies is.
Die VF Plus sal nie toekyk hoe wettige belastingbetalers gestraf word terwyl oortreders beloon word nie.
Die party sal aanhou veg teen wanbestuur en onregverdige besluite wat die beginsels van reg en verantwoordbaarheid ondermyn


