fbpx
Vryheidsfront Plus

Nuwe politieke landskap moet gebruik word om land se gesondheidsdienste reg te dokter

(Begrotingsdebat in parlement: Gesondheid)

Suid-Afrika se nuwe politieke landskap bied aan die VF Plus die geleentheid om deur sy deelname aan die regering van nasionale eenheid (RNE) aktief ʼn rol te speel om Suid-Afrika se probleme reg te dokter; een hiervan die land se gesondheidsdienste wat totaal ineengestort het.

Veranderinge sal aangebring moet word in die bestuur en administrasie van die departement van gesondheid. Beleid sal herbesoek moet word en daar sal aanpassings gemaak moet word om plek te maak vir moderne en werkbare idees.

Verantwoordbaarheid sal die wagwoord moet wees in besluite wat geneem word wat ʼn impak het op die daaglikse lewe van alle Suid-Afrikaners. Nog ʼn Life Esidimeni-tragedie mag nie geduld word nie.

Die totale toegekende begroting vir 2024/25 beloop R62,2 miljard. Tog is geld alleen nie die probleem nie, maar ‘n gebrek aan kundigheid en goeie bestuur.

Wanbestuur en korrupsie het die openbare gesondheidsorginstellings tot só ʼn mate vernietig dat die mediesefondsbedryf en privaat mediese dienstebedryf deurslaggewende vennote geraak het in die aanbieding van goeie en gehalte gesondheidsorg.

Die VF Plus sal daarna streef om sinvolle samewerking tussen die private- en openbare gesondheidsorgsektore te vestig sodat kundigheid en geriewe ten volle benut kan word.

Die hoofdryfkrag sal nie transformasie wees nie, maar goeie en toeganklike gesondheidsorg aan al die mense van Suid-Afrika. Gesonde bestuurspraktyke moet by alle hospitale en klinieke in werking gestel word met die klem op verantwoording en kundigheid.

Die VF Plus se standpunt bly onwrikbaar dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) nie daarin sal slaag om openbare gesondheidsorg te verbeter nie. Dit sal eerder die teenoorgestelde uitwerking hê.

Indien die probleme uitgestryk word, kan die geld wat daar verlore gaan, gebruik kon word om mediese sorg op grondvlak te verbeter.

Dit kan aangewend word vir medisyne, mediese toerusting en beddens, nuwe hospitale en klinieke, die opgradering van infrastruktuur, die effektiewe benutting van geboue, die aanstelling van kliniese en nie-kliniese personeel en veral dokters en verpleegsters.

Suid-Afrikaners het ʼn unieke geleentheid gekry om deur samewerking en ywer die land weer op te bou en te herstel. Dit moet ten volle benut word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.