Die Limpopo-provinsie moet dringend hulp verleen aan boere wat onlangs groot skade gely het weens veldbrande en ysige koue met gepaardgaande swartryp in die provinsie.
Die VF Plus het reeds ’n skrywe hieroor gerig aan Limpopo se LUR vir landbou, me. Nakedi Sibanda-Kekana.
Ernstige veldbrande en koue het die afgelope week ʼn spoor van verwoesting gesaai in gewasproduksie-gebiede soos Tzaneen, Vivo, Levubu, Marble Hall, Warmbad, Groblersdal en Apél.
Die koue het gepaard gegaan met swartryp wat plantegroei ernstig beskadig het. Veral groenteboere is swaar getref.
Die party doen ʼn beroep op die LUR om te vergader met belanghebbendes en landbou-organisasies om die skade wat boere gely het, te bepaal. Dit moet ook oorweeg word om boere wat erge verliese gely het, finansieel by te staan.
Die landboubedryf is soos elders baie belangrik vir die provinsie. Dié bedryf verseker nie net voedselsekerheid nie, maar bied werksgeleenthede aan duisende mense.
Dit is die VF Plus se mening dat die provinsie noodfondse beskikbaar moet stel om boere te help om nie die bedryf te verlaat nie.