Alhoewel die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) inwoners versoek het om water spaarsamig te gebruik om ʼn moontlike waterkrisis af te weer, is dit tyd dat die metro hand in eie boesem steek en besin oor sy aandeel in die krisis.
Volgens die NMBM se eie data vir die 2024/25-finansiële jaar, gaan 67,95% van die metro se water verlore aan lekkasies en ander faktore, wat neerkom op 67,95 miljoen kiloliters.
Die metro se jongste data toon dat die gekombineerde watervlakke van die vyf damme wat die metro van water voorsien – Churchill, Impofu, Loerie, Kouga en Groendal – op 61,28% staan met slegs 51,93% as bruikbare voorraad. Dit plaas die watervoorraad onder druk met sowat 492 dae se water oor teen huidige verbruiksvlakke.
Gegrond op ’n inwonerstal van sowat 1,2 miljoen mense, moet die metro se waterverbruik gemiddeld 280 miljoen liter per dag (MLD) wees om volhoubaar te bly. Tans gebruik inwoners egter 375 MLD – 95 MLD meer as die teiken – wat die voorraad vinnig uitput.
Hierdie hoë verbruik, tesame met aansienlike waterverliese weens lekkasies, bedreig die metro se waterveiligheid.
Die VF Plus het onlangs drie groot lekkasies aangemeld waar miljoene liter vars water verlore gegaan het. Sommige is al maande gelede aangemeld, maar is steeds nie herstel nie. In sommige gevalle neem herstelwerk tot agtien maande.
Die party dring daarop aan dat die metro binne 48 uur na die aanmelding van lekkasies moet optree om herstelwerk te bespoedig.
Alhoewel die VF Plus saamstem dat inwoners waterverbruik moet verminder, moet die metro sy kant bring en infrastruktuur en instandhouding prioritiseer.
Swak bestuur en vertraagde herstelwerk dra aansienlik by tot die krisis en sonder vinnige optrede kan die metro weer in ’n waternood beland, ondanks inwoners se pogings om te bespaar.
Die tyd vir verskonings is verby. Die ANC/EFF-regering moet optree, anders gaan Nelson Mandelabaai se krane weer opdroog.


