Verdere rooi ligte flikker oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) vanwee die regering se voorneme om lede van private mediese fondse se belastingkrediete vir die NGV-fonds aan te wend.
‘n Bedrag van sowat R34 miljard kan op hierdie wyse vir die NGV bekom word. Lede van mediese fondse gaan op hierdie wyse effektiewelik “beboet” word omdat hulle nie ‘n las vir die staat is nie en vir hul eie mediese sorg betaal.
Tans kan lede van mediese fondse sekere mediese uitgawes jaarliks van die belastinggaarder terugeis.
Die VF Plus is van mening dat die gespartel om die NGV-fonds van die grond af te kry, nie gaan slaag nie en dat daar nog geen finansieringsmodel vanaf die minister van finansies of die minister van gesondheid beskikbaar is oor wat presies hierdie fonds gaan kos nie.
Laasgenoemde het in 2024 geweier om ‘n vraag van die VF Plus in die parlement te beantwoord oor wat die koste van die NGV gaan wees.
Daar is tans verskeie sake in die Grondwethof en die howe teen die wetgewing aan die gang. Dit sluit in die saak teen president Cyril Ramaphosa wat redes moet verskaf oor waarom hy die wetgewing kort voor die 2024-verkiesing onderteken het.
Ook die saak aangaande die sertifikaat van behoeftes waarop ‘n finale uitspraak nog gelewer moet word. Voordat hierdie sake nie afgehandel is nie, kan daar nie voortgegaan word om die NGV-wet van stapel te stuur nie.
Daar kan nie langer toegelaat word dat miljarde rande verder in ‘n doodgebore NGV gestort word nie.
In die 2023/24-boekjaar is R1.4 miljard en in 2024/25 R1.1 miljard bestee op die fonds in die vorm van ‘n direkte toelaag wat toegeken word deur nasionale tesourie (NT) aan die departement van gesondheid vir die direkte voorbereiding en implementering van die NGV in Suid-Afrika.
Hierdie geld kon aangewend gewees het vir die opknapping van infrastruktuur, die aanstel van dokters en verpleegsters en die aankoop van medisyne, beddens, ambulanse en mediese toerusting.
Die VF Plus is staan vas by sy standpunt dat die NGV nie daarin sal slaag om openbare gesondheid te verbeter nie.
Indien hierdie soort van aksies teen lede van private mediese fondse sou voortgaan, gaan dit 9 miljoen Suid-Afrikaners wat dit verkies, se grondwetlike reg op toegang tot private gesondheidsorg belemmer.
Dit sal ‘n skending van hul grondwetlike regte wees net soos wat die swak openbare gesondheidsorg tans ‘n skending van 54 miljoen Suid-Afrikaners se grondwetlike regte is.


