Die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) het die installering van voorafbetaalde kragmeters tydelik gestaak nadat die VF Plus daarop gewys het dat die huidige proses nie voorsiening maak vir effektiewe kredietbestuurmaatreëls nie.
Tydens die afgelope artikel 80-komiteevergadering vir elektrisiteit, water en sanitasie, het die VF Plus gevra wat nou van inwoners word wat steeds geld aan die munisipaliteit verskuldig is vir vorige rekeninge.
Dit nadat sommige inwoners se kragtoevoer – wat reeds afgesny is weens agterstallige rekeninge – weer aangeskakel is nadat voorafbetaalde meters geïnstalleer is, sonder dat die skuld vereffen is.
Nadat die saak deur die rekeninge-afdeling ondersoek is, het die VF Plus nou amptelike bevestiging gekry dat die proses om nuwe meters te installeer tydelik gestaak is.
Inwoners wie se ou meters met voorafbetaalde meters vervang is, word daarop gewys dat hulle steeds kan voortgaan om vooruit hul elektrisiteit aan te koop.
Intussen sal die VF Plus met die rekeninge- en invorderingsafdeling skakel om oor die pad vorentoe te besin, terwyl behoorlike oplossings vir kredietbeheer ook aan die artikel 80-komitee voorgelê sal word.
Die VF Plus onderneem om inwoners ingelig te hou oor wanneer die proses om meters te vervang weer hervat sal word, en wat die nuwe kredietbeheermaatreëls sal behels.


