Die brand wat Maandagaand (13 Oktober) groot skade aan die Herberg Hotel in Krugersdorp se middedorp aangerig het, is veel meer as ʼn geïsoleerde voorval.
Dit is ’n klinkklare bewys van die groter verval wat die hart van Krugersdorp verteer.
Hoewel die polisie nog die oorsaak van die brand ondersoek en niemand beseer is nie, is die skade aan hierdie historiese landmerk ’n tragiese verlies.
Die Herberg Hotel, gebou kort ná die stigting van die dorp in 1889 en later uitgebrei in 1939, verteenwoordig nie net ʼn argitektoniese erfenis nie, maar is ook ʼn nalatenskap van ’n eens trotse middedorp.
Die VF Plus betreur die beskadiging van die hotel, maar sien dit as ’n teken van ’n dieper krisis.
Dit is ’n gevolg van jare se verwaarlosing, misdaad en infrastruktuurverval in die sakekern van Krugersdorp.
Die party het herhaaldelik gewaarsku oor die toenemende verval, die diefstal van infrastruktuur soos kragkabels, misdaad en alledaagse vandalisme wat die gebied onherkenbaar gemaak het.
Die hotel is ʼn sterk vingerwysing na wat gebeur wanneer ’n dorp se kern onbeskermd gelaat word.
Die VF Plus doen ’n beroep op die Mogale City-plaaslike munisipaliteit om nie langer die oë toe te knyp vir die verval nie.
Proaktiewe maatreëls is dringend nodig om Krugersdorp se middedorp te red van verdere agteruitgang.


