Die VF Plus neem kennis van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit se plan om aansoek te doen om die Luipaardsvlei-stortingsterrein in Krugersdorp as ‘n plaaslike rampgebied te verklaar om toegang tot die munisipaliteit se rampfonds te kry om die brand te bestry.
Luidens ʼn verslag van die munisipaliteit gaan dit R9,5 miljoen kos om die grondverskuiwingstoerusting te bekom vir die taak. Die brand het op 4 Junie aan die suide kant van die terrein uitgebreek.
Sterk winde dryf die brand aan met groot swart rookwolke wat oor woongebiede hang. Die rookdampe bevat koolstofmonoksied, waterstofsulfied en organiese stowwe. Dit skei ook ʼn slegte reuk af.
Sosiale media word tans oorval deur inwoners wat besorg is oor hul gesondheid. Dit is veral mense met asma en longprobleme wat die ergste geraak word.
Die VF Plus het jare gelede die munisipaliteit gewaarsku dat die stortingsterrein nie behoorlik onderhou word nie en te groot is. Die stortingsterrein-kompakteerder wat uit die staanspoor nie groot volumes afval kan hanteer nie, het in Augustus vanjaar onklaar geraak.
Die laaigraaf wat gebruik word, is ook gesteel. Daar is geen brandkraan op die perseel nie. Intussen het die afval in groot volumes begin ophoop.
Die ANC se wanbestuur van die stortingsterrein is deur die brand op die spits gedryf en moet daar nou noodgedwonge van ʼn noodfonds gebruik gemaak word om die krisis te hanteer.
Die munisipaliteit is wetlik verplig om die stortingsterreinbedrywighede te herstel om swaar boetes te vermy. Boetes wissel van R5- tot R10 miljoen. Die munisipale bestuurder, Makhosana Msezana, loop ook die gevaar om gevangenisstraf van tot tien jaar opgelê te word.
Dit is ook nie ʼn gegewe dat die aankoop en huur van duur masjinerie ʼn volgende brand gaan verhoed nie.
Die probleem is die ANC se onvermoë om die stortingsterrein en die munisipaliteit suksesvol te bestuur.