Die toestand van die Memoriam-begraafplaas in Bloemfontein in die Mangaung-metro-munisipaliteit, is maar een van vele voorbeelde van die ANC se onvermoë om sy mandaat tenoor inwoners na te kom.
Die rioolbesoedeling aangrensend aan die begraafplaas het so erg geraak dat nabygeleë grafte in die grond wegsak. Duisende liter riool borrel tussen die treinspoor en begraafplaas en het in effek al ‘n riooldam gevorm.
Weens die afwesigheid van toesig en instandhouding, beland vullissakke en rioolwater in ‘n stormwaterkanaal wat deur die begraafplaas loop. Hierdie vullis- en rioolbesoedelde water loop in ‘n natuurlike spruit en uiteindelik na die Mockesdam, waarna dit vir menslike gebruik gesuiwer word.
Sonder enige effektiewe toegangsbeheer is die mure van herinnering by die begraafplaas oopgebreek en geplunder.
Die meeste grafte is ook reeds gedeeltelik toegegroei vanweë die metro se ongeërgdheid teenoor instandhouding.
Hierdie skandelike toestand van die begraafplaas en grootskaalse rioolbesoedeling het onder die toesig van die gewese uitvoerende burgemeester van die metro, Olly Mlamleli, plaasgevind. Indien die ANC haar sou herverkies tot burgemeester, sal dit as bevestiging dien dat die ANC geen erns met die omgewing en gesondheid van mens en dier het nie, maar ook geen respek het vir oorledenes en hul geliefdes nie.
Navrae: 064 847 1560