Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Bronkhorstspruit-waterkrisis: Burgemeester se erkenning van nalatigheid nie genoeg – VF Plus dien klagtes in by die openbare beskermer en Groen Skerpioene

Die uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metro, Nasiphi Moya, het openlik verantwoordelikheid aanvaar vir nalatigheid nadat die Bronkhorstspruit-watersuiweringswerke byna drie weke lank onbehandelde water aan inwoners verskaf het.

Tussen 24 September en 14 Oktober 2026 is water sonder chloor gelewer. Dit het daartoe gelei dat 408 mense – die meeste kinders onder vier jaar – met maagdermsiektes in die hospitaal beland het.

Watertoetse het uiters hoë vlakke van E. coli getoon, asook patogene soos norovirus, Campylobacter en Shigella.

Die burgemeester en haar burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste, Molatelo Mashola, het nie net versuim om te verseker dat die water behoorlik met chloor behandel word nie, maar ook om inwoners betyds te waarsku dat die water onveilig was om te drink, daarmee kos te maak, of daarin te was of bad.

Die water was só besmet dat selfs kook dit nie veilig gemaak het nie.

Die VF Plus het reeds op 24 Junie vanjaar gewaarsku oor die ernstige agteruitgang en gebrek aan instandhouding by die Bronkhorstspruit-aanleg. Daardie waarskuwings is geïgnoreer.

Die burgemeester het nou erken dat amptenare die senior leierskap nie betyds ingelig het nie en dat kommunikasie ontoereikend was. Dit is nie bloot ’n diensleweringsmislukking nie – dit is wanadministrasie wat ’n direkte gesondheidsrisiko vir kwesbare inwoners geskep het.

Terwyl ander partye strafregtelike klagte by die polisie aanhangig maak, volg die VF Plus ’n aanvullende roete wat fokus op aanspreeklikheid en voorkoming:

  • ’n Klag word by die openbare beskermer (OB) ingedien oor wanadministrasie en onbehoorlike gedrag. Die klag fokus op die versuim om kritieke inligting na senior bestuur te eskaleer, die gebrek aan toesig by die aanleg, en die versuim om inwoners te waarsku.
  • ’n Klag word ook by die Groen Skerpioene (omgewingsbestuur-inspekteurs) ingedien oor die voortgesette rioolbesoedeling van die Bronkhorstspruit-rivier. Hierdie rivier, waarvan die behandelingswerke water onttrek, word besoedel deur wanfunksionele afvalwaterwerke en pompstasies van die Tshwane-metro en Victor Khanye. Hierdie besoedeling het die krisis vererger.

Inwoners van Bronkhorstspruit, Zithobeni, Dark City, Rethabiseng en Sokhulumi verdien veilige water. Hulle verdien ook dat die verantwoordelikes rekenskap gee – nie net met woorde nie, maar deur formele ondersoeke en regstellende optrede.

Die VF Plus eis bekwame tegniese bestuur in stede van politieke aanstellings, behoorlike toesig oor water- en rioolinfrastruktuur, en vinnige, deursigtige kommunikasie wanneer dinge verkeerd loop.

Die Bronkhorstspruit-voorval bevestig waarom verandering nodig is.

Die party sal die uitslag van hierdie klagte noukeurig volg en inwoners op hoogte hou. Veilige water is nie ’n guns nie – dit is ’n reg.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.