(Debat in parlement oor die heropening van skole)
Gemeenskapsgedrewe onderwys het groot voordele bo onderwys wat deur die staat gedomineer word. Dit blyk uit die gefasseerde heropening van skole, ná die algemene sluiting tydens die grendelstaat.
In 'n parlementêre debat oor die heropening van skole, het die VF Plus daarop gewys dat gemeenskapsgedrewe skole 'n bondgenoot in die proses was, omdat hulle oor die stelsels en die wil beskik om onderwys so gou moontlik te hervat. Hierdie skole moes voor die grendelstaat verskeie aanslae van provinsiale onderwysdepartemente op hul selfstandigheid afweer.
Tuisonderrig, 'n vorm van onderwys wat die departement eerder met regulasies bemoeilik het as om dit te fasiliteer, het ook 'n onverwagte bondgenoot van die departement geword.
Kinders wat weens onderliggende siektetoestande nie skool toe kon terugkeer nie, asook kinders van ouers vir wie die risiko op Covid-19-besmetting onaanvaarbaar hoog is, kan tuisonderrig ontvang. Dit help skole ook om getalle te verlaag, sodat sosiale afstand makliker gehandhaaf kan word.
Aangesien die krisis eenvoudig vir die departement te groot was om te hanteer, is kleiner- en onafhanklike skole toegelaat om te heropen, mits hulle aan veiligheidstandaarde kon voldoen.
Dit het nie alleen die betrokke kinders se kans om die krisis te oorbrug versterk nie, maar dit het die departement ook gehelp om beste praktyke te vestig. Lesse is geleer, wat tans in die algemene heropening van skole toegepas kan word.
Terwyl die Skolewet van 1996 openbare skole beskryf as skole wat deur die skoolgemeenskap bestuur word, het die nasionale en provinsiale departemente gaandeweg van hierdie bevoegdhede weggekalwe. Taal- en toelatingsbeleid was deurentyd die skyf van hierdie inmenging.
Talle skole het hul selfstandigheid tydens die inperkingskrisis herwin. Sulke skole word aangemoedig om aan die winste vas te hou.
Die Covid-19-krisis het die regering sodanig verswak, dat dieselfde dwang as tevore nie weer op skole toegepas sal kan word nie. Skole wat hul nuutgevonde selfstandigheid vrywillig weer afstaan, sal dit doen ten koste van gehalte onderrig en gemeenskappe se beheer oor instellings wat vir hulle kosbaar is.
Navrae: 074 166 5540