Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis optrede teen stygende veediefstal in Vrystaat – nie net nog waarskuwings

Die jongste waarskuwing en veiligheidswenke van die polisie oor die skerp styging in veediefstal in die Vrystaat, is nie genoeg nie.

Boere doen reeds alles in hul vermoë en bestee miljoene rande aan privaatsekuriteit en kamerastelsels om hul vee te beskerm.

Dit is die staat se verantwoordelikheid om misdaad te voorkom en diewe vas te trek – iets wat tans duidelik nie doeltreffend gebeur nie.

Volgens die polisiewaarskuwing is meer as 1 600 beeste en 730 skape die afgelope maand in die Vrystaat gesteel, met ’n geraamde waarde van sowat R8 miljoen.

Hierdie syfer weerspieël egter nie die ware omvang van die verlies nie. Selfs jong speenkalwers en goedkoper skape sou saam minstens R15 miljoen werd wees. Indien teeldiere, dragtige verse of bulle onder die gesteelde diere was, is die werklike verlies aansienlik hoër. Die emosionele én finansiële impak op boere kan ook nie bloot in geldwaarde gemeet word nie.

Die VF Plus sal die Vrystaatse LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, mnr. Jabu Mbalula, versoek om bekend te maak hoeveel veediefstalsake die afgelope twaalf maande aangemeld is en hoeveel daarvan tot inhegtenisnemings en suksesvolle vervolgings gelei het.

Baie boere meld nie eens meer voorvalle aan nie, omdat hulle deur die owerhede in die steek gelaat word en sake dikwels geen aandag geniet nie.

Die VF Plus eis ook ’n vergadering met die departement oor die toepassing van die landelike veiligheidstrategie. Hierdie strategie moet behoorlik in werking gestel word om veediefstal te voorkom en boere se vee en eiendom te beskerm.

Boere mag nie verder gebuk gaan onder die verlies van vee en inkomste omdat owerhede hul verantwoordelikhede versuim nie. Die staat moet nou sy grondwetlike plig nakom.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.