Die VF Plus verwelkom die onlangse suksesvolle optrede deur wetstoepassingsagentskappe teen onwettige gouddelwers (Zama-Zamas) in die omgewing van Sabie, Graskop en Pelgrimsrus.
Die party glo dat sy volgehoue druk ’n bydrae gelewer het om hierdie kwessie bo-aan die provinsiale agenda te plaas. Die VF Plus het amptelike skrywes aan die LUR vir gemeenskapsveiligheid, veiligheid en skakeling, Khensani Jackie Macie, gerig, die saak herhaaldelik in die provinsiale wetgewer geopper en dit ook twee keer persoonlik met die LUR bespreek.
Luidens die amptelike polisieverslag (Mpumalanga Suspects Illicit Mining Feedback Report – 22 Februarie tot 13 Oktober) het hierdie optrede die misdaadsindikate ’n ernstige nekslag toegedien. Tydens die operasies is meer as 300 verdagtes in hegtenis geneem op aanklagte van onder meer die onwettige besit van gouddraende materiaal en -toerusting, die besit van plofstowwe en oortredings van die Immigrasiewet.
Daar is ook beslag gelê op ’n groot hoeveelheid toerusting – waaronder 120 phendukas (goudsiwwe), kragopwekkers, waterpompe en metaalverklikkers. ’n Groot deel hiervan is op die toneel vernietig.
Benewens die toerusting het die polisie en die weermag beslag gelê op onwettige vuurwapens, ammunisie en kommersiële plofstof. Verskeie voertuie wat gouderts op die R40 en R532 vervoer het, is geskut en groot bedrae kontant is gekonfiskeer.
’n Belangrike deurbraak is ook gemaak deur beslag te lê op groot hoeveelhede kwik en sianied wat reeds plaaslike waterbronne – insluitend die Mgwenya-, Komati- en Blyderivier – asook historiese erfenisterreine besmet het.
Die VF Plus sal die situasie noukeurig monitor. Hierdie optrede moet voortgaan om te verseker dat onwettige mynbou-aktiwiteite nie weer ongebreideld voortgaan en Mpumalanga se gemeenskappe, erfenis en plaaslike ekonomie bedreig nie.


