Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gautengse Covid-19-begroting: ANC vernietig die wit middelklas en verwag van swart middelklas om selfmoord te pleeg

(Debat in Gauteng-wetgewer)

Die VF Plus het vandag tydens die debat oor die Gautengse provinsiale Covid-19-aansuiweringsbegroting die ANC ontbloot as 'n moreel korrupte party wat Covid-19 misbruik om die wit middelklas te vernietig terwyl die swart middelklas versoek word om selfmoord te pleeg in die gees van die kommunistiese filosoof Amilcar Cabral, wat in 'n sluipmoordaanval vermoor is.

Dit is ironies dat mense in 'n land bymekaar kom en saamwerk wanneer 'n eksterne bedreiging hom voordoen, maar onder die ANC word die Covid-19-pandemie eerder gebruik om selfsugtige ideologiese doelwitte te bereik.

Aanvanklik het dit geblyk dat 'n gesamentlike poging om die pandemie te hanteer sou kristalliseer, maar die ideologiese stiksienigheid van die ANC het spoedig 'n einde aan enige sodanige poging gebring.

Dit was nie lank nie of die ANC het sy ware kleure gewys met rasgegronde finansiële regeringshulp aan sake-ondernemings. Dit maak nie vir die ANC saak dat swart werknemers hul werk verloor in die proses nie. Dit is veel belangriker om wit ondernemings te kelder ten einde die transformasie van die ekonomie moontlik te maak in die naam van die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR).

Swart werknemers word dus bloot kollaterale slagoffers.

Indien 'n mens dié logika volg, kan verstaan word waarom die ANC die destruktiewe idees van Amilcar Cabral aanhang wat verkondig dat na die vernietiging van die ou middelklas deur die rewolusie die nuwe middelklas – in Suid-Afrika die swart middelklas – hul voordele moet opgee vir 'n gelyke kommunistiese samelewing.

In werklikheid het die geskiedenis geleer dat hierdie denke lei tot endemiese grootskaalse armoede en hongersnood.

Hierdie denke verklaar ook waarom korrupsie in die ANC struktureel is en plaasvind in 'n straffelose omgewing. Dit verklaar ook waarom die ANC mag najaag ter wille van mag deur die Tshwane-metro onwettig onder administrasie te plaas.

Die ANC stel nie werklik belang in die verbetering van alle mense se lewe nie, maar slegs in mag ten einde 'n paar elite kaders te verryk.

Navrae: 082 391 3117

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.