Die Mandelabaai-ontwikkelingsagentskap (MBDA) se uitsonderlike prestasie van 81% vir die 2024/25-finansiële jaar, is ʼn duidelike bewys dat goeie bestuur sonder politieke inmenging werklike resultate lewer.
Hierdie mylpaal onder leiding van die MBSA se uitvoerende hoof, mnr. Anele Qaba, en sy toegewyde span, is ’n duidelike bewys dat skoon bestuur, sterk leierskap en aanspreeklikheid ʼn wenkombinasie is.
Die MBDA is gestig om stedelike agteruitgang in die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) teen te werk en ekonomiese en toerisme-ontwikkeling te bevorder deur stedelike vernuwing.
Een van die projekte wat die MBDA bestuur, is die Nelson Mandelabaai-stadion. Met 85% kapitaalbesteding en ’n indrukwekkende R20 miljoen se inkomste uit dié stadion, toon die MBDA dat sukses moontlik is wanneer politieke inmenging uitgesluit word.
Met die MBDA wat duidelik presteer, probeer die ANC weer om beheer verkry oor dié stadion – nie om die gemeenskap te dien nie, maar om toegang tot die geld te kry.
Die ANC beskou die stadion as ʼn melkkoei en nie as ʼn strategiese bate vir ekonomiese groei nie.
Die ANC-koalisieregering in die NMBM word gekenmerk deur korrupsie, kaderontplooiing en wanbestuur wat dienslewering laat ineenstort het en miljarde vermors het ten koste van inwoners. Daar kan nie toegelaat word dat dié regering die MBDA se sukses ongedaan maak nie.
Die VF Plus sal aanhou veg vir skoon regering en die beskerming van instellings wat bewys het dat hulle belastingbetalers se geld verantwoordelik bestuur.
Die NMBM se inwoners verdien beter as om te sien hoe ’n funksionerende entiteit deur politieke hebsug vernietig word.
Die VF Plus doen ’n ernstige beroep op alle inwoners om saam te staan, die MBDA se onafhanklikheid te verdedig en te verseker dat sy sukses uitgebou word.


