Die Ekurhuleni-metro se gebrekkige langtermyn-beplanning is die oorsaak van die jongste kragonderbreking wat inwoners en ondernemings in Germiston-Noord lamgelê het.
Die onderbreking, wat veroorsaak is deur die diefstal van die Croydon 132 kV-kabel wat die primêre substasie van Germiston-Noord van krag voorsien, het verlede week meer as 20 voorstede sonder elektrisiteit gelaat.
Die werklike kwessie is dat die Ekurhuleni-metro geen beheer oor hierdie onderbrekings het nie, want voorsiening bly in Eskom se hande.
Jare gelede moes die metro al ‘n ooreenkoms met Eskom aangegaan het om infrastruktuur wat deur Eskom besit word, geleidelik met Ekurhuleni se infrastruktuur te vervang.
Dit sou die metro die gesag en vermoë gegee het om kragtoevoer te bestuur en onderbrekings baie vinniger te herstel. In plaas daarvan word inwoners aan die genade van Eskom se vertragings oorgelaat – soms vir dae of selfs weke.
Die VF Plus glo dat Germiston nie kan bekostig om voort te gaan met herhalende grootskaalse kragonderbrekings wat huise, skole, ondernemings en gemeenskapsveiligheid beïnvloed nie.
Die afhanklikheid van Eskom se verouderende en kwesbare netwerk het onvolhoubaar geword.
Die ANC-geleide Ekurhuleni-administrasie het jare gelede versuim om aan langtermyn -oplossings te dink en het eerder ʼn onmiddellike uitkoms gekies as om in ʼn strukturele oplossings te belê.
Indien ‘n langtermyn-program jare gelede van stapel gestuur is, was Germiston se energievoorsiening reeds gestabiliseer. In stede daarvan bevind die stad hom nou in ʼn siklus van krisisbestuur, met geen werklike oplossing nie.
Die VF Plus doen ‘n beroep op Ekurhuleni om dringend:
- ‘n Duidelike, tydgebonde plan ter tafel lê om Eskom-infrastruktuur in Germiston oor te neem en voorsieningsnetwerke geleidelik in munisipale hande oor te dra.
- Belê in die beveiliging van kritieke kraginfrastruktuur om kabeldiefstal en vandalisme te voorkom.
- Skakel met Eskom oor oorgangsooreenkomste wat aanspreeklikheid sal verseker wanneer onderbrekings plaasvind.
Inwoners in Malvern-Oos, Wychwood, Primrose Hill, Dania Park, Simmerfield, Primrose, Dawnview, Fisher Hill, Solheim, Wilbart, Meadowbrook, Meadowdale, Sunnyridge, Sunnyrock, Symhurst, Gerdview, Homestead, Rustavia, Barvallen, Woodmere, Marlands, Primrose East, Germiston East en Tedstoneville verdien baie beter as ‘n eindelose verskonings.
Die VF Plus bly daartoe verbind om te veg vir volhoubare oplossings wat die mense van Germiston eerste stel.


