Die Thabazimbi-plaaslike munisipaliteit (Thabazimbi, Northam, Rooiberg, Leeuwpoort ) het ʼn plaaslike onderneming se krag vandag, danksy die ingryping van die VF Plus, heraangesluit nadat dit op 23 Julie 2025 onregmatig afgesny is.
Die VF Plus eis egter steeds antwoorde oor die munisipaliteit se onwettige optrede en die finansiële skade wat dit veroorsaak het.
Die eienaar van die onderneming het die munisipale kantore herhaaldelik besoek, maar is ingelig dat die kragtoevoer eers herstel sou word sodra die eienaar van die perseel waar sy onderneming geleë is, sy uitstaande munisipale skuld betaal.
Hierdie voorwaarde is onwettig aangesien die huurder se kragrekening nie agterstallig is nie en die Munisipale Stelselswet nie toelaat dat huurders gestraf word vir ʼn eienaar se skuld nie.
Daar is boonop ʼn basiese kragheffing van R2 145,96 (BTW uitgesluit) op die onderneming se rekening bygevoeg ondanks die afsluiting en geen kragverskaffing nie.
Die afsluiting het die onderneming gedwing om aansienlike kostes aan te gaan vir alternatiewe kragopwekking om basiese bedrywighede voort te sit. Dit het gelei tot ernstige finansiële verliese en die risiko van sluiting.
Die VF Plus beskou hierdie saak as ’n goeie voorbeeld oor hoe die party ondernemings teen die wanbestuur en onregverdige praktyke van ʼn munisipaliteite beskerm.
VF Plus sal voortgaan om die munisipaliteit aanspreeklik te hou om te verseker dat sulke voorvalle nie herhaal word nie en dat vergoeding vir die onderneming se verliese oorweeg word.


