’n Mosie van die VF Plus in die Sol Plaatje-munisipale raad dat die munisipale bestuurder, mnr. Thapelo Matlala, voorlopig geskors word, is vandag die tweede keer op die lange baan geskuif.
Hierdie optrede van die speaker, me. Dipuo Peters, kom nie net op pligsversuim neer nie, maar dreig ook om tot uitgebreide onrus te lei.
Peters het reeds op 2 September die eerste keer geweier om die VF Plus se mosie tydens ’n raadsvergadering toe te laat. Dit sou voorstel dat Matlala tydelik geskors word hangende ’n onafhanklike ondersoek na aantygings van ernstige korrupsie.
Deur die mosie te blokkeer, het Peters die plig van raadslede om die munisipale bestuur verantwoordbaar te hou, ondermyn. Dit skep die indruk dat die raad se toesigfunksie doelbewus verlam word om een individu te beskerm, ten koste van Kimberley se inwoners.
Dit is in stryd met die grondwetlike plig tot deursigtigheid, aanspreeklikheid en verantwoordbaarheid.
Die gevolge van hierdie versuim is reeds in die strate sigbaar. Op 2 September het gemeenskapslede tot protes oorgegaan deur bande te brand en op die onmiddellike skorsing van die munisipale bestuurder aan te dring. Dit het tot ’n vergadering met gemeenskapsleiers gelei, waarna Matlala op spesiale verlof geplaas en ’n spesiale raadsvergadering vir vandag belê is. Die mosie sou hierdie plofbare situasie kon voorkom.
Vandag is die VF Plus se mosie wel ter tafel gelê. Die raad het egter besluit om Matlala sewe dae te gun om aan te dui waarom hy nie geskors moet word nie. Intussen word sy spesiale verlof verleng. Die gemeenskap is nie hiermee tevrede nie en oproerigheid het buite die munisipale gebou ontstaan.
Die VF Plus is van mening dat die ernstige aard van die aantygings teen Matlala ’n onmiddellike en onafhanklike ondersoek noodsaak, en dat hy intussen geskors moes word om moontlike inmenging met die ondersoek te voorkom. Dit blyk dat die ANC-beheerde raad vir tyd speel en die saak nie met die nodige erns hanteer nie.
Kimberley en die Sol Plaatje-munisipaliteit verkeer in ’n ekonomiese krisis. Die VF Plus sal nie stilsit terwyl goeie regering en dienslewering verder ondermyn word nie. Korrupsie steel brood van mense se tafels en alle bewerings daarvan moet spoedig en deeglik ondersoek word.


