Die VF Plus verwelkom die optrede teen transitorowers in Louis Trichardt (Makhado) verlede Vrydag ná ‘n vlaag van transitorooftogte wat veral gebiede in die Vhembe-distrik raak.
Dit wys dat daar nog talle polisielede is wat alles in die stryd sal werp teen misdaad en selfs bereid is om hul lewe op die spel te plaas om wet en orde in die land te handhaaf.
Agtien vermeende rowers is dood in ʼn skietgeveg met die polisie.
’n Misdaadtoneel-ondersoek wat ná die skietery gevolg het, is nóg ʼn liggaam in die gebou gevind, wat die dodetal tot 19 laat styg het.
Luidens die jongste misdaadstatistieke het daar tussen April en Junie vanjaar 11 transitorooftogte plaasgevind in die provinsie.
In Junie vanjaar het die polisiekommissaris van Limpopo, luitenant-generaal Thembi Hadebe, erken dat transitorooftogte ernstig toegeneem het in veral die Vhembe-distrik en bekendgemaak dat ‘n Kontant-in-transito-plan vir Limpopo ingestel is.
Dit wil voorkom asof die implementering van dié plan suksesvol is en hopelik sal hierdie optrede van die polisie ander transitorowers ontmoedig.
’n Lid van die Valke se taktiese eenheid, luitenant-kolonel Joe Coetzer, is in Vrydag se skietgeveg gewond en sterk tans aan in die hospitaal. Die party wens hom ’n spoedige herstel toe.