VF Plus-raadslede moes Vrydagaand in Klerksdorp noodgedwonge self ingryp om ʼn skynbaar beskonke bestuurder van ʼn munisipale bakkie aan te keer.
Die VF Plus is sedert 20:00 die aand oorval met klagtes van die publiek oor ʼn munisipale voertuig wat roekeloos rondry en selfs teen eenrigtingverkeer injaag. ʼn Video van ʼn munisipale amptenaar wat in die openbaar by die voertuig urineer is ook op sosiale media versprei.
Die party het die voorvalle onmiddellik aangemeld by die munisipale bestuurder, me. Lesego Seametso, sowel as die direkteur van gemeenskapsveiligheid, mnr. Anton Marais.
Verdere klagtes van die publiek het egter bly instroom. Verskeie mense het gemeld dat hulle noue ontkomings gehad het om botsings met die munisipale voertuig te vermy.
Die VF Plus het toe self gaan ondersoek instel en het teen 22:00 die voertuig in Leemhuisstraat opgespoor waar dit gestaan en luier het met ʼn slapende bestuurder agter die stuur.
Die man het hom probeer verset toe ʼn VF Plus-raadslid die voertuig afgeskakel en die sleutels verwyder het. Hy het in die proses die voertuig laat agteruit rol waar dit teen die raadslid se voertuig tot stilstand gekom het.
Die owerhede is weer in kennis gestel en het toe uiteindelik gereageer en by die toneel opgedaag waar die man in hegtenis geneem en vir bloedtoetse weggeneem is.
Die skynbare laksheid van die munisipale bestuur en verkeersowerhede in hierdie ANC-beheerde munisipaliteit tydens hierdie gebeure, is skokkend en onaanvaarbaar.
Lede van die gemeenskap is vir meer as twee ure nadat die voorvalle aangemeld is, blootgestel aan die gevaarlike optrede van ʼn munisipale amptenaar sonder enige doeltreffende optrede.
Die VF Plus sal daarop aandring dat hierdie voorval en gebrek aan optrede deur die munisipale bestuur behoorlik ondersoek word en die betrokke amptenare verantwoordbaar gehou word.
Die inwoners van Matlosana verdien beter as die ANC.