fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus neem standpunt in teen ANC se onteiening sonder vergoeding van outeursreg

Die VF Plus het sterk standpunt in die Gautengse wetgewer ingeneem teen die ANC se pogings om deur middel van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg asook die Wetsontwerp op die Beskerming van Voordraerskopiereg sonder vergoeding te onteien met skrikwekkende gevolge vir die ekonomie.

Die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het die wysigingswetsontwerpe na alle provinsiale wetgewers verwys vir insette soos vereis word vir wetsontwerpe wat provinsiale magte raak.

Die VF Plus het teen die twee wetsontwerpe gestem en het ʼn minderheidsverslag in die Gauteng-wetgewer ingedien wat in die finale verslag aan die NRP ingesluit is.

Die VF Plus was die enigste Gautengse opposisieparty wat ʼn minderheidsverslag hieroor ingedien het.

Tydens die bespreking van die twee wetsontwerpe binne die wetgewer se ekonomiese ontwikkelingkomitee, het die VF Plus dit duidelik gestel dat die invoer van die vreemde leerstelling van “fair use”, wat geen regsgeskiedenis en jurisprudensie in Suid-Afrika het nie, sal lei tot grootskaalse misbruike van kopiereg-produkte sonder toestemming of betaling.

Die nasionale regering voer die leerstelling in sonder dat die departement van handel en nywerheid enige begronde beleidsdokument daaroor aangebied het en sonder enige onafhanklike en deurtastende sosio-ekonomiese impakstudie oor die wetsontwerpe.

Ingevolge dié leerstelling kan kopiereg-produkte gebruik word sonder dat vooraf toestemming nodig is van die outeurs of kopiereghouers, en dus sonder betaling van vergoeding of tantième.

“Fair use” staan in teenstelling met die bestaande leerstelling van billike gebruik (“fair dealing”), waar gebruik sonder toestemming tot sekere goed gedefinieerde uitsonderings beperk word. “Fair use” word na die tyd deur ʼn hof op beginsels en faktore bepaal, wat regsonsekerheid sal skep.

Die effek daarvan sal wees dat outeurs se skeppings na willekeur deur ander gebruik sal word en dat skeppers en outeursregte-eienaars in elke geval teen hoë koste regshulp sal moet kry om hul regte te beskerm.

Die ekonomiese effek hiervan is dat groot outeursreg-gegronde ekonomiese sektore soos die film-, televisie-, elektroniese- en drukpublikasie- en musiekbedryf groot skade gaan ly weens die onsekerheid wanneer outeursregte gratis gebruik kan word en wanneer toestemming en vergoeding wel ter sprake sal wees.

Dit gaan ook lei tot baie beleggings wat uit Suid-Afrika onttrek word weens die regsonsekerheid wat bestaan rondom die betekenis van “fair use”.

Daar is maar ʼn handjievol lande wat “fair use” in hul kopieregwette het. Buitelandse vervaardigers van kopieregprodukte het hul ernstige kommer oor die twee wetsontwerpe teenoor die VF Plus uitgespreek. Daar word gevrees dat verdere beleggings in gedrang sal wees indien die wetsontwerpe aanvaar sou word.

Die kommer van die VF Plus en talle beleggers is ook gegrond op die omstrede nuwe regsreël in die Wet op Outeursreg. Dit behels dat in die geval waar die regte in literêre- en musikale skeppings, wat ook die grondslag vorm vir films en televisie-produksies, oorgedra is aan ʼn ander party soos ʼn film- of musiekproduksie-maatskappy vir ontwikkeling en verspreiding, die (literêre en musikale) regte outomaties na 25 jaar weer terugkeer na die betrokke outeur.

Dié regsreël kom ook voor in die Wet op die Beskerming van Voordraers deurdat enige reg om ʼn akteur in ʼn oudiovisuele medium uit te beeld, outomaties terugkeer na die akteur.

Hierdie regsreël ondermyn die gevestigde en bewese sakemodelle van die globale en Suid-Afrikaanse film-, televisie-, elektroniese- en drukpublikasie- en musiekbedrywe aangesien hulle nie genoeg tyd sal hê om inkomste te genereer op die produkte nie en daarom eerder van die begin af nie daarin sal belê nie.

Die beteken eenvoudig dat Suid-Afrikaanse skeppers van literêre- en musikale-skeppings eenvoudig nie meer ʼn plaaslike of internasionale mark gaan hê om hul produkte te verkoop nie. Insgelyks gaan Suid-Afrikaanse akteurs ook nie meer werk kan kry in internasionale of selfs plaaslike produksies nie.

ʼn Verdere probleem is die reëlings in albei wetsontwerpe dat voordraers, en spesifiek akteurs in oudiovisuele-produksies, ʼn outomatiese reg verkry vir heruitsendingsfooie, waarvoor die filmvervaardiger onderworpe is aan drakoniese regulasies oor vooraf registrasie en die boekhou van heruitsendings. Nienakoming is onderworpe aan ongehoord sterk strafregtelike sanksies.

Daar is nie noodwendig fout met die beginsel van heruitsendingsfooie vir akteurs nie mits dit onderhandel word en op ʼn billike en ekonomies volhoubare grondslag geskied.

Dit is egter duidelik dat die magte wat aan die minister gegee word om ʼn kontraktuele verhouding tussen partye te skep, groot inbraak maak op die beginsel van die vryheid om te kontrakteer. Daarby is die kriminalisering van enige late om ʼn uitsending te rapporteer, heeltemal oorbodig.

In geheel gesien kom die regsbeginsels in die twee wetsontwerpe neer op ʼn ernstige verwatering van outeursregte en dus die onteiening van kommersiële regte sonder vergoeding.

Dit sal ly tot ernstige skade vir outeurs en die ekonomiese sektore wat geskoei is op outeursregte. Hierdie beginsels strook met die ANC se Marxistiese oriëntasie.

Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om die twee wetsontwerpe te keer en het reeds onderneem om die nodige ondersteuning en inligting te verskaf sou belanghebbendes die wetsontwerpe as aangenome wette in die Grondwethof moet beveg.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.