Die regeerstyl van die ANC is om te staan en toekyk terwyl probleme ontwikkel en daarna te beloof om dit reg te stel terwyl almal weet dit is net leë beloftes wat nooit realiseer nie.
In sy toesprake oor die naweek het pres. Cyril Ramaphosa onderneem om op te tree teen misdaad, moord op polisielede, die probleem met onwettige myners en swak grensbeheer.
Dit is van die sake wat die president in elke staatsrede noem met dieselfde leë beloftes om op te tree. Hy sê wat gedoen moet word, maar die woorde word nie in dade omskep nie.
Die VF Plus is ook baie skepties oor die president se aankondiging dat hy self ’n opsomming van die paneelverslag oor die Russiese skip die Lady R sal uitreik. Dit sal waarskynlik eerder ’n toesmeerdery wees as ’n poging om die publiek openhartig oor die gebeure in te lig.
Dit is reeds bekend dat die minister van verdediging, Thandi Modise, in Desember 2022 gesê het dat daar ammunisie van die skip afgelaai is vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW).
Ek het toe reeds gesê die minister dien op die nasionale konvensionele wapenbeheerkomitee en dat sy daarom al die feite tot haar beskikking sal hê.
Daar was geen rede tot geheimhouding indien enige transaksie ingevolge die regte voorskrifte gedoen is nie en dit laat vrae ontstaan oor waarom die optrede in geheimhouding in die nag plaasgevind het.
Die besonderhede is eers ontken en nou wil die president dit nie openbaar maak nie, glo weens die sensitiewe aard daarvan.
Indien daar dan niks buitengewoons aan die transaksie was nie, is daar sekerlik geen veiligheidsrede waarom die besonderhede nie bekend gemaak kan word nie.
Sulke optrede wek agterdog en wat my aanbetref, is daar steeds ʼn slang in die gras wat nou op hoogste vlak verdoesel word.