fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus bekommerd oor besoedeling van Rietvlei-dam en -natuurreservaat

Die VF Plus is bekommerd dat die aansoek vir die myn van steenkool in die omgewing van die Rietvlei-dam en -natuurreservaat die waterstelsel in die gebied sal besoedel.

Luidens inligting is die omgewingsverslag wat ingedien is saam met die aansoek om steenkool te myn by die bestaande kleimyn, verdag.

Corobrick het aansoek gedoen om sy kleimyn-bedrywighede uit te brei om ook steenkool te kan myn.

Tans is Corobrick net gemagtig om vir klei te myn vir die maak van bakstene.

Dit het onder die aandag van die departement van minerale hulpbronne en energie gekom dat steenkoolreserwes wat tydens normale kleimyn-bedrywighede blootgestel is, sonder toestemming ontgin word.

Die departement het die myn gelas om hierdie oortreding reg te stel deur terugwerkend aansoek te doen vir omgewingsgoedkeuring.

Hierdie aansoek is onderworpe aan ʼn basiese assesseringsproses. Die assesseringsverslag is tans beskikbaar vir openbare kommentaar en kan by die volgende skakel gevind word: https://licebo.co.za/projects/public-review-documents

Die Rietvlei-natuurreservaat staan onder Pretorianers bekend as ʼn toevlugsoord in die natuur en is die tuiste van die bedreigde Bankenveld-grasveld, sowat 2000 verskillende diersoorte en 240 verskillende voëlspesies.

Die party sal die situasie monitor en die nodige aksie neem indien dit blyk dat die myn ʼn bedreiging vir die omgewing en die natuur inhou.

Die VF Plus doen ʼn beroep op inwoners om ook die openbare vergadering op 8 September om 11:00 by die seiljagklub by die Rietvlei-natuurreservaat by te woon om insette te lewer.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.