Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Kragskok vir huishoudings met sonkrag – Eskom gaan toenemend slegs krag voorsien aan diegene wat nie kan betaal nie

Eskom se besluit dat huishoudings met sonkragstelsels meer vir hul krag moet betaal, is begryplik alhoewel dit waarskynlik die teenoorgestelde uitwerking gaan hê as waarvoor hy hoop.

Huishoudings wat sonkragstelsels kan bekostig, gaan neig om eerder batterye by te koop en hulself van die netwerk te verwyder. Dit gaan Eskom slegs met nie-betalende kliënte laat.

Eskom se probleem is dat sy opwekkingsvermoë groot genoeg moet wees om kragverbruik tydens piektye te voorsien. Steenkoolkragstasies, wat steeds die toneel in Eskom oorheers, kan nie op en af gestel word volgens kragbehoeftes nie.

Indien alles by Eskom goed werk en die tipiese piekverbruik is 50 GW, moet Eskom dit, plus ’n veiligheidsfaktor, reg deur die dag produseer.

Piektye is in die oggend omstreeks van 06:00 tot 8:00 en weer smiddae 17:00 tot 20:00. Die res van die dag gaan oortollige krag verlore.

Sonkragstelsels lewer die meeste krag van 10:00 tot 15:00, juis wanneer Eskom met minder moeite aan die behoefte kan voldoen.

Indien Eskom gedurende die dag daardie krag beskikbaar het, kan hy dit steeds nie aan kliënte met sonkragstelsels verkoop nie. Oor piektyd verwag sulke kliënte wel dat Eskom-krag beskikbaar moet wees, wat beteken dat hulle onder normale omstandighede nie Eskom se las verlig nie, maar tog minder tot die staatsonderneming se inkomste bydra.

Eskom kon die nasionale energiereguleerder, Nersa, oortuig dat dit die mark verwring. Daarom moet sonkrageienaars voortaan meer betaal om aan die netwerk gekoppel te wees.

Dit is ou nuus dat alles by Eskom nie goed werk nie. Beurtkrag het bedags en selfs in die middel van die nag voorgekom, wat beteken dat Eskom gedurende geen uur van die dag aan die kragbehoefte kon voldoen nie. Daarom het elkeen wat kon, hul eie sonkrag geïnstalleer en Eskom grootliks uit die verknorsing gehelp.

Die tariefplan wat volgens plan op 1 April in werking tree, mag dalk vir Eskom onmiddellike verligting bring, maar kliënte gaan vinnig die sommetjies maak en liewer heeltemal onafhanklik raak.

Dalk eindig Eskom nog as ’n staatsonderneming binne die departement van maatskaplike ontwikkeling!

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.