Pres. Donald Trump se aanwysing van Leo Brent Bozell III na Suid-Afrika om Reuben Brigety as ambassadeur op te volg, is ‘n welkome verwikkeling en wys dat Suid-Afrika steeds hoog op die Amerikaanse agenda is.
Bozell se benoeming is gewis nie om dowe neute nie. Hy is ‘n veteraan-konserwatiewe mediakommentator, mediakundige en politieke aktivis.
Dit is duidelik dat die Trump-administrasie ‘n verteenwoordiger in Suid-Afrika wil hê wat sy oor deeglik op die grond sal hou om Trump op hoogte te hou van politieke verwikkelinge en die rol en boodskap van die media in Suid-Afrika.
Luidens mediaberigte is die 64-jarige Bozell bekend vir sy onwrikbare verbintenis tot tradisionele waardes en sy uitgesproke kritiek op liberale mediavooroordeel.
Die aanstelling moet onder meer deur ‘n proses in die kongres en senaat gefinaliseer word, maar alles dui daarop dat dit straks ‘n uitgemaakte saak is gegewe die Republikeine se meerderheid in die senaat.
Indien Bozell wel die pos opneem, sal die VF Plus hom graag wil ontmoet om hom vanuit die party se perspektief op die hoogte van sake in Suid-Afrika te bring.


