Die Noord-Kaapse LUR vir finansies, me. Venus Blennies-Magage, het Dinsdag die provinsie se begroting van R23,5 miljard in Kimberley ter tafel gelê. Daarvan is 37% vir onderwys en 29% vir gesondheid geoormerk.
Altesame 97,2% van die begroting is die sogenaamde billike aandeel wat die provinsie van die sentrale regering ontvang en 2,4% is eie inkomste.
Die ander 0,4% is spesiale toelae wat die sentrale regering voorsien. Dit beteken die provinsie is eintlik net ’n implementeringsagent vir die nasionale regering.
Van die belangrikste kwelvrae in die provinsie is swak munisipale bestuur en infrastruktuur wat verval. Volgens die begroting gaan die provinsies munisipaliteite help met die kundigheid om hulle bestuur op te knap.
Dit moet help dat hulle ’n groter persentasie van belastings kan insamel en nie weer onbestede infrastruktuurtoelae aan die nasionale tesourie hoef terug te betaal nie.
Ironies genoeg moes die LUR ook aandui dat spesiale voorsiening nodig is om heffings en dienste wat die provinsie aan munisipaliteite skuld, te betaal.
Blennies-Magage het bekend gemaak dat die provinsiale regering sy eie inkomste wil opstoot deur die vier weegbrûe in die provinsie weer in werking te stel en nog een te bou.
Verder is private gesondheidsdienste fooie verskuldig, maar die provinsie het tans nie die stelsels om dit in te samel nie. Regstelling hiervan kan volgens die LUR aansienlik tot eie inkomste bydra.
Die vraag ontstaan wat van hierdie inkomstebronne gaan word indien vervoerkontrakteurs die wet nakom wat oorlading betref; en as die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) private gesondheidsorg vernietig.
’n Ligpunt in die begroting is die aktivering van Nceda (Northern Cape Economic Development Agency) vroeër vanjaar.
Dit behoort projekte wat tans nie aan verwagtings voldoen nie, soos die provinsie se Spesiale Ekonomiese Sones, te aktiveer. Die sowat 10% van die begroting wat vir paaie en openbare werke begroot is, kan hiertoe meehelp.
Ekonomiese groei in die Noord-Kaap is moeilik, want die provinsie is uitgestrek en yl bevolk. Boonop is 70% van die provinsie se mense en ekonomie volgens die LUR in die korridor Springbok-Upington-Kathu-Kuruman-Kimberley.
Dit beteken dat dienste aan slegs sowat 400 000 mense in die res van die provinsie oor groot afstande gelewer moet word.
Die VF Plus beywer hom reeds ’n geruime tyd daarvoor dat oppervlak ook in berekening van die billike aandeel per provinsie in ag geneem moet word.
Verder is ekonomiese groei van uiterste belang om die jeugwerkloosheid van sowat 40% om te keer. Daarvoor moet rasgedrewe teikens in die aanstelling van kontrakteurs en werknemers met meriete vervang word.
Dit is ook noodsaaklik vir die Noord-Kaap om meer bronne van eie inkomste te ontwikkel, met groen energie wat vir die provinsie groot vooruitsigte bied.


